Moeggebid!
deur Alet Gardner Wanneer ek soggens ’n handvol hartjies op my pas opgemaakte bed uitpak, bid ek een vir een vir my kinders en kleinkinders — dat die Here hulle nie net sal bewaar nie maar ook dat hulle Hom in hul verhoudings, in hulle werk en ontspanning sal erken en verheerlik. Dan gaan my hart so uit na ouers wat vir kinders bid wat ver van die Here af weggedwaal het, en wat heeltemal verdwaal en vervreem van hul ouers is. Een so ’n ouer het te midde van geweldige finansiële swaarkry bly bid vir haar seun John wat as tiener van die huis af weggeloop het om matroos te word. Haar gebed was dat haar seun in diens van die Here mag staan. God het haar gebede beantwoord en hierdie jong dronklap-matroos het ’n prediker geword. John Newton het duisende na die Here gelei, onder andere Thomas Scott wat self baie ongelowiges tot geloof in Christus begelei het. Een van Scott se bekeerlinge weer, was William Cowper wat talle liedere saam met Newton geskryf het. Een van Newton se liedere, Amazing Grace, is vandag nog wêreldbekend. Lizzie de Armond, wat as jong vrou gelag het vir haar ma se gebede, en haar rug gedraai het op haar ma se God, het op ’n dag die volgende lied geskryf: I’m coming home, I’m coming home, To live my wasted life anew, For mother’s prayers have followed me, Have followed me the whole world through. - Lizzie de Armond
’n Meer onlangse genadegeval van God, is ’n val-en-opstaan alkoholis wat haar identiteit as bruid van Christus ontdek het en as stralende bruid die kerkpaadjie kon afstap — ’n verhoring van haar ouers en familie se gebede. In vandag se kitsoplossing-gedrewe wêreld soek ons so graag vinnige resultate, van kitskos tot kits-egskeidings, handige pilletjies om lewendige kinders te laat fokus en pilletjies om oorspanne grootmense te help slaap. Hierdie is dinge wat handig te pas kan kom, maar wat nooit die plek kan inneem van biddende afhanklikheid van die Here nie. Ons pogings om mense te organize en reg te ruk, kan nie soveel vermag as wat God kan doen in antwoord op die opregte gebede van sy kinders nie. Ek is bevoorreg om talle vroue te ken wat jare lank vir hul mans gebid het — mans wat in buite-egtelike verhoudings of verslawende gewoontes vasgeval was — en saam met hulle te kon sien hoedat God hul gebede beantwoord én in die proses vir hierdie vroue self in ’n meer intieme verhouding met Hom inlei. En nou, waar ek en my man self in ’n krisistyd met sy werksomstandighede staan, herinner die Here ons daaraan dat ons met vrymoedigheid mag bid (Filippense 4), mag aanhou bid en nie moedeloos raak nie (Lukas 18) en Hom vertrou om Romeine 8:28 waar te maak. Soos wat ek nie sal bly lewe as ek moeg raak om asem te haal nie, sal ek ook nie geestelik oorleef as ek moeggebid raak nie.