top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die Kerk kort nuwe vrae vir ’n nuwe wêreld

deur Stephan Joubert Jy hoef nie een of ander kenner te wees om te weet die wêreld verander vinnig nie. Vat maar net die digitale wêreld. Het jy geweet binne die volgende 24 uur gaan daar 188 miljard epos boodskappe rondgestuur word, asook 144 miljoen eposse en 400 miljoen tweets. Tussendeur gaan 30 miljoen “apps” ook afgelaai word, 2 miljard Skype minute gaan opgebruik word en 4,7 miljard Google besoeke gaan plaasvind. Hoe oorleef die kerk in so ’n vinnige wêreld? Wel, miskien kort ons ’n klompie nuwe vrae as padaanwysers. Te veel kerklike vrae is so oud en muf soos verlede maand se brood. Ek praat van vrae wat steeds om elke kerklike hoek en draai gehoor word soos: “Hoe gaan ons nog meer jongmense/leiers/lidmate betrokke kry?” “Hoe gaan ons die wêreld bereik vir die Here?” “Hoe gaan ons meer fondse kry om ons bedienings te doen?” Hierdie tipe vrae dra ’n virus in hulleself rond, want daar kan tog nooit ’n punt bereik word dat ons genoeg jongmense, fondse, leiers, en wat nog alles sal hê nie. Sulke vrae stel ons by voorbaat op vir mislukking. Ook laat dit ons net met ’n hoop skuldgevoelens opgeskeep sit. Ons skuld mekaar vrae wat ons beter sal help om effektief kerk te wees in nuwe tye. Wat van die volgende tipe vrae: Wat is ons kern-roeping, en watter rol speel onsself in die uitleef daarvan? Wat is die kern-verhoudings wat ons as kerk in plek moet hê, en watter rol speel onsself tans daarin om dit sigbaar te maak? Wat is die kern-stappe wat ons in plek moet stel om ons roeping uit te leef en daardie verhoudings in plek te kry wat God van ons vra, en watter rol speel onsself om dit te doen? Watter dinge moet ons ophou doen, of minder doen sodat ons ons roeping meer effektief kan vervul? Hoe is ons tans besig om onnodige dinge te elimineer? Wat verwag ander in ons plaaslike kerk van onsself en ons van hulle? Is ons verwagtinge realisties, of lê dit ons lam? Wat doen ons prakties om mekaar help om ons Godgegewe talente uit te leef en om nie heeltyd meer te doen as dit waarvoor God ons toegerus het nie? Wat sal gebeur as ons bogenoemde vrae in dringende aksies binne die volgende drie maande omskep?

bottom of page