Vissermanne en vertroue
- Nov 11, 2014
- 2 min read
deur Francine van Niekerk Daar was ’n paar ouens in die boot. Hulle was moeg na ’n lang nag se werk. Daar was nog net ’n paar laaste takies om te doen voordat hulle kon huiswaarts keer. Nie met veel in die sak nie, maar ten minste genoeg om vir die vrou en kinders se aandete te sorg. Die kaptein van die boot het die net stukkie vir stukkie die boot ingesleep. Soos ’n gesoute visserman, kon hy binne ’n japtrap elke skeurtjie opspoor, die vars seewater daaroor spoel om dit skoon te maak. Toe die laaste stukkie visvangnet in die boot is — netjies opgevou en gereed vir môre se vangs — sien hy die skare op die kaai. En ’n man wat hom naderwink. Die visserman het Hom voorheen al hier rond gesien. Die man wou die visserman se boot gebruik as ’n preekstoel — ’n entjie hawe in, sodat al die mense Hom kon sien. Die woorde wat uit sy mond kom, het die visserman se binneste soos ’n skool visse in ’n net laat beur. Daar was ’n krag aan hierdie woorde, ’n lewe wat met sy binnekant resoneer. Die man in die skuit het na die visserman gedraai, na die opgevoude nette gewys waarop ’n ander visserman hom gemaklik neergevlei het. “Roei dieper in,” sê Hy. “En gaan gooi dan jou nette daar uit.” Het die man dan nie gehoor hoe hy gekla het oor hulle misoes laasnag nie? Het die man nie gesien dat hulle gereed is om huis toe te gaan nie? Jy hoef nie te verstaan nie, vertrou net. Teen sy beterwete, het hy sy makkers die roeispane laat optel. Dieselfde storie as vroeër die dag. Hulle het die nette uitgegooi, en verbaas gesien hoe die boot kantel van die gewig. Hulle nette was vol. So tussendeur die planmaak om al die visse te vang, het die visserman daardie woorde onthou: Jy hoef nie te verstaan nie, vertrou net. (Lees gerus Lukas 5 vir die volledige storie.)

Comments