Kry jou prioriteite reg
deur Stephan Joubert a. Bepaal gereeld jou prioriteite in die lewe. Maak gereeld ’n lysie van die belangrikste verhoudings in jou lewe. As navolger van Christus is God altyd heel-bo aan jou lys. Moenie net lippetaal bewys aan hierdie woorde nie. Begin en eindig elke dag aan sy voete. Leef elke dag doelbewus in sy teenwoordigheid. Dan sal Klaagliedere 3 prakties waar word in jou lewe dat God se goedheid elke oggend kraakvars en nuut is. Tweede op jou prioriteitslys is jou gesin, familie en vriende. Stel elke week ’n paar minder belangrike afsprake af om by hulle te wees. Hou op om diegene die naaste aan jou af te skeep vir dinge wat op die ou end geen blywende waarde het nie. Jou huweliksmaat en kinders is verhoudings-honger! Hulle skree na jou aandag. Jou vriende ook. Hulle is suiwer goud in jou lewe. Moenie hulle deur jou vingers laat val nie. b. Doen eerste dinge eerste. Hou by jou prioriteitslys deur belangrikste verhoudings en take eerste te doen. Onthou, wyse mense ken die verskil tussen dit wat hulle moet doen (wat saamhang met hulle prioriteite), en dit wat ander van hulle verwag, sonder dat dit regtig belangrik is (groepsdruk). Wyse mense spandeer die meeste van hulle tyd aan daardie verhoudings en dinge wat sin en betekenis gee aan hulle verhouding met God en wat bydra tot die opbou van ander. Hulle leef gefokusd, daarom laat hulle nie toe dat minder belangrike dinge hulle aandag verskuif nie. c. Sê nee. Jy kan nie alles doen nie. Jy hoef ook nie. Jy het rus nodig omdat jy ook moeg word. Daarom moet jy tyd hê om te herstel en om aan God se voete asem te skep. Jy moet eenvoudig nee sê vir minder belangrike dinge. Hou op skuldig voel as jy nee sê vir nog ’n taak, nog ’n uitnodiging, of nog ’n werkie op jou reeds oorlaaide skouers. Moenie gevlei word deur opmerkings dat net jy dit die beste van almal kan doen nie. Kyk na jou prioriteite en besluit in die lig hiervan wat jy kan en moet doen, en wat nie. God het jou aanmekaar gesit om ’n gelukkige lewe tot sy eer te leef. Wat help dit jy beskadig sy tempel — jou liggaam — deur jouself uit te brand? Kry jou prioriteite reg. Leef soos wat God wil!