Bloeisels vir jou siel
deur Milanie Vosloo Die amandelboom is gevoelig en weet altyd eerste dat die lente naby is, en dan maak hy bloeisels. Net so sal Ek ook fyn aanvoel en sorg dat wat Ek gesê het moet gebeur, op die regte tyd sal gebeur. Jeremia 1:12b Die siel van ’n vrou beleef meestal een of ander seisoen. Omdat jy vrou is, sal jy weet wat ek bedoel as ek sê dat baie van ons selfs ’n paar seisoene op één dag kan ervaar. Daar’s dié tye wanneer die lewe ons goed behandel en ons voel of die somerson-van-vreugde ons harte verwarm. Daar’s die herfstye wanneer verliese soos roesbruin akkerblare binne-in ons siele val en ons menswees gestroop voel. Dan is daar die ysige winters: dié tye wanneer mense of dinge ons harte yskoud laat vries en ons voel om iewers op ’n meer geselliger plek te gaan wegkruip. Die heerlikste tye in ons vrouweeswêrelde is waarskynlik wanneer ons harte met hoopvolle vreugde blom. Wanneer ons opgewonde en afwagtend oor die lewe voel. Wanneer ons die vanselfsprekende en oorvloedige seën in ons lewens sién en die moedige bloeisels in ons lewens met dankbaarheid erken en waardeer. Ja, wanneer ons doelbewus probeer om positief te dink en met verwagting te leef, blom daar as’t ware elke dag splinternuwe lentebloeises op die takke van ons siel! Ons weet ook dat die lewe ’n manier het om ons meer dikwels verwese-vaal as spankelend-sielsgelukkig te laat voel. Ja, vernuwende lentetye waarin ons met hart en siel leef, verg meestal ’n onwrikbare wil, harde werk en ’n goeie kwota geloof. Tog werp só ’n ingesteldheid altyd vrugte af. Kom ons besluit om voortdurend lente in ons harte rond te dra sodat ons elke dag met verwondering, dankbaarheid en passie sal omhels:
Plaas elke doodgerypte deel van jou lewe in die hande van jou herskeppende Vader;
Vra Hom om die arm, onvrugbare grond van jou siel met mening om te spit;
Laat toe dat Christus elke stukkie doodgroei-onkruid met sy vergifnis uithaal;
Vul jou skoongemaakte hart tot oorlopens toe vol met die krag van sy Gees;
Glo dan met verwagting dat die bloeisels in jou lewe tot volle rypheid sal groei; en
Blom met oorgawe!
Mag die uiterlike skoonheid van elke stukkie lewe in die natuur vir jou die simbool wees van jou eie hart se hoop en vervulling. Carpe diem, liewe vrou! Ek loof U, hemelse Vader, vir elke seisoen van my lewe. Dankie veral vir die voorreg om nuut te word, te groei en met oorgawe te leef. Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM