top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vrouesiele wat verkwik

deur Milanie Vosloo Toe sê die vroue vir Naomi: “Loof die Here! Hy het vandag vir jou ’n kleinseun gegee om vir jou te sorg. Mag sy naam altyd in Israel voortleef deur sy kinders. Jou skoondogter het jou baie lief. Sy het meer vir jou gedoen as wat sewe seuns ooit sou kon doen...“ — Rut 4:14,15a Vroue het mekaar nodig. Want ons leef in ’n wrede en dikwels ongenaakbare wêreld wat met tye vir ons vrouwees moeilik is om te hanteer. Dis wanneer die begripvolle oor, geduldige hart en deernis-liefde van ’n vriendin so vertroostend en versagtend is. Dis asof daardie kameraderie ons weer moed gee om ons lewensreis met moed voort te sit. Die geskiedenis van Rut en Naomi speel af teen ’n gewelddadige agtergrond waarin die dood van die mans in die familie hulle in ’n krisis gedompel het. Tog is dit een van daardie lekkerleesverhale van twee vroue wat mekaar se lewens op wonderlike wyses beïnvloed het. Dit was hierdie twee sterk vroue se diepgewortelde waardes, onwrikbare lojaliteit en opregte vriendskap wat hulle uiteindelik albei ’n gelukkige en geseënde lewe gegee het. Toe albei se mans dood is en Naomi besluit om na haar vaderland terug te gaan, volg Rut, haar skoondogter, haar getrou met die woorde: “...waar u gaan, sal ek gaan; ... u God is my God ...” Daar in die “vreemde” sorg die twee weduwees getrou vir mekaar. Wanneer Rut later met Boas trou, eindig die verhaal met die vreugdetoneel waar Naomi met dankbaarheid haar kleinseun, Obed, (wat uit die huwelik gebore is) op haar skoot vashou. Só word Rut die oumagrootjie van Dawid en word sy, ’n eertydse Moabitiese vrou, deel van die geslagsregister van Jesus en ’n medewerker in diens van God. Ons kan twee wonderlike lewenslesse by hierdie spesiale vrou leer:

  • Elkeen van ons kan, ondanks ons eie situasies, ’n positiewe invloed op ander se lewens hê. So word ons vars-briesie-vroue wat ander verkwik!

  • God kan en wil almal van ons — ondanks ons verlede en omstandighede — in sy raadsplan gebruik. Gehoorsame en gewillige harte kan van elkeen van ons groot geloofsvroue maak.

Jakobus skryf in sy brief: Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor, ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek. (Hfst 1:25) Kom ons wees verskilmaak-vroue wat ander versterk en verkwik omdat ons lojale vriendinne is wat vertrou kan word. Kom ons leef ons geloof met oortuiging uit sodat God ons in sy diens kan gebruik. Hemelse Vader, ek wil graag ’n verkwikkende verskilmaker wees wat ander se lewens met my onvoorwaardelike liefde seën. Gee aan my ‘n onselfsugtige hart, ‘n sensitiewe oor en gewillige gehoorsaamheid om dit te doen. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page