top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Leef in die paradys, nou al!

deur Stephan Joubert “Ek is gelukkig getroud en dis g’n grap nie. Ek wil nie weet hoe dit moet voel om ongelukkig getroud te wees nie,” het ’n vriend van my een keer opgemerk. Grappies op ’n stokkie, die Bybel sê die huwelik is die intiemste verhouding waarin enigiemand hier op aarde kan leef. Geen ander verhouding is so intens, so naby nie. In Genesis 2:18 lees ons dat God besluit het dis nie goed dat die man alleen is nie. Daarom het Hy ’n helper vir hom gemaak, iemand om die mens by te staan as sy gelyke. Terloops, die Hebreeuse woord vir “mens” beteken ook bo-grond. Was dit nie vir God se asem wat lewe in hom ingeblaas het nie, dan was hy die ene stof! Daarom dat die eerste man iemand anders nodig gehad het om hom regtig mens te maak. Gelukkig het die Here ingegryp. Na sy chirurgiese prosedures daar in die tuin was die vrou op die toneel. Toe Adam haar sien het sy mond behoorlik van verwondering oopgehang. Uiteindelik het hy ’n helper en ’n sielsgenoot gekry. In Genesis 2 sê God dat ’n man sy familie sal verlaat om lewenslank saam met sy vrou te leef en dat hulle een sal wees. Ongelukkig het mense hierdie eenheid verbreek en hulle huwelike verander in lewenslange tronkstraf. Wat ’n fout! Die mure rondom die huwelik is nooit veronderstel om tronkmure te wees nie, maar kasteelmure! ’n Huwelik na God se hart sluit altyd liefde, warmte, respek, deernis en harmonie in. Bou jou huwelik op Sy Woord, dan beleef jy nou reeds ’n stukkie paradys hier op aarde. Dan woon jy en jou huweliksmaat nou reeds in Sy kasteel! Dra jou huweliksmaat op die hande. Julle is immers deur die Here as lewende geskenke aan mekaar gegee. Van tone tot kop behoort julle aan Hom en aan mekaar. O ja, as jy nie getroud is nie, vier dan fees oor die feit dat die Here jou omring het met soveel vriende en familie vir wie jy tans tot seën kan wees.

bottom of page