Trotseer die reuse wat jou bedreig met God se hulp
deur Luther Backer In 1 Samuel 17 word ’n beskrywing gegee van die slagveld waar die krygsmag van die Filistyne opgestel is teenoor die krygsmag van Israel. Die oorlogstoneel word oorheers deur ’n reusagtige Filistynse baasvegter, Goliat, wat die Israelse mag uitdaag om iemand te kies om teen hom te staan te kom. Die verloorder sou die slaaf van die ander word. Die Israeliete is vreesbevange maar dan betree die jong seun, Dawid, die gevegstoneel. Max Lucado in Facing Your Giants, W Publising Group, 2006 pp. 2-9 gebruik die optrede van Dawid om te wys op God se hulp en redding in tyd van nood. “Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop” (1 Samuel 17:40). Goliat het hom met minagting aangekyk en gesê: “Is ek ’n hond dat jy met kieries na my toe kom?” (1 Samuel 17:43). Dit is onwaarskynlik dat die omstanders Dawid enigsins ’n kans sou gee om die stryd te oorleef. Op een of ander stadium word die vrede in ons lewe bedreig deur ’n Goliat in die vorm van egskeiding, werkloosheid, om oor die hoof vir bevordering in die werk gesien te word, om onskuldig van ’n oortreding beskuldig te word, finansiële probleme, ens. Vir veertig dae lank het die Filistyn die volk van God uitgedaag. Dikwels bedreig hierdie reuse jou nie slegs vir een geleentheid nie, maar vir jare en dikwels vir geslagte lank in jou familie. Wanneer jy die Goliat in jou lewe sien, is dit al wat jy raaksien? Dawid het meer gesien. Sy eerste woorde was: “Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: ‘Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?’” (1 Samuel 17:26). Nie Dawid se broers of Koning Saul wys in hulle uitsprake enigsins na God nie, maar Dawid ignoreer die gewig van Goliat se spies of die grootte van sy skild en wend hom openlik tot die lewende God wanneer hy aankondig: “Die Here wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn” (1 Samuel 17:37). En wanneer Dawid tot aanval oorgaan, sê Dawid die bekende: “Jy kom na my met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het” (1 Samuel 17:45). Dawid storm op Goliat af en vel hom neer met ’n klip uit sy slingervel. Hoe hanteer jy die reuse in jou lewe? Storm jy op die reuse van drankmisbruik of van depressie of dobbelary of dreigende egskeiding of werkolisme af en verbied die reuse om jou langer gevange te hou of stel jy die geveg uit tot later? Ons hoef egter nie die reuse alleen te trotseer nie maar met God aan ons kant. Soos wat Dawid in die geveg met Goliat die verloop van die stryd onvoorwaardelik aan God oorgelaat het, so nooi God jou om nie op jou eie krag te steun nie, maar al die reuse in jou lewe met Sy hulp te beveg. Max Lucado (p. 9) wys daarop dat Dawid in sy ontmoeting met Goliat nege keer na die almag van God verwys het en net twee keer na Goliat se optrede, d.w.s. Dawid het vier keer meer op God se genade gefokus as op die erns van die bedreiging. As jy fokus op die reus, sal jy struikel maar as jy fokus op God, sal jou reus struikel.