God kom kuier
deur Stephan Joubert Leo Tolstoi se verhaaltjie getiteld: “Where love is, God is” handel oor die eenvoudige skoenmaker Martin Avdéiteh. Martin droom een nag God gaan by hom kom kuier. Daardie oggend sien Martin ’n arm straatveër genaamd Stepánitch in die koue buitekant sy husie. Hy nooi hom binne, gee vir hom tee en gesels oor Christus. Later sien Martin ’n arm vrou met ’n baba deur sy venster. Hy nooi haar ook in, gee vir haar kos en noodsaaklike lewensmiddele en praat met haar oor God. Haar hart loop oor van dankbaarheid as sy vertrek. Ook maak Martin later daardie dag vrede tussen ’n appelverkoopster en ’n seun wat een van haar appels steel. Hulle hoor ook van Jesus se vergifnis en stap saam daar weg. Daardie aand as Martin bid, sien hy skielik vir Stepánitch, die arm vrou en die appelverkoopster. Hulle glimlag vir hom en verdwyn. Martin tel dan sy Bybel op wat oopgeval het by Matteus 25. Daar lees hy toe: “Ek was honger en julle het vir my kos gegee; Ek was dors en julle het my te drinke gegeee...” Toe weet Martin sy droom het waar geword. Die Here het regtig daardie dag kom kuier. Hy vermom Homself maar net goed en kom kuier in die gestalte van mense wat swaarkry.