Sien wat jy hét!
deur Milanie Vosloo Die Here het my eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en ander lief te hê soos Hy my liefhet. — 1 Timoteus 1:14 Betrap jy ook jouself so nou en dan dat jy totaal onvergenoegd is met jou lewe? Dis mos die tye wanneer ons onsself vertel hoe onregverdig alles en almal is en so half bitter wonder waarom ons dit nie makliker of beter kan hê nie. Ons sien dan net dié dinge raak wat ons nié het nie terwyl ons oorkook van ongelukkigheid en ontevredenheid met ons eie lewens. Die ergste van alles is dat hierdie onvergenoegdheid en bitterheid wýs! Dis voelbaar in die ysigheid van ons stemtoon, hoorbaar in die byterigheid van ons woorde, sigbaar in ons gesigsuitdrukkings en bewysbaar in ons dade (of die gebrek daaraan!). Dis allermins vir ons én ander aangenaam as ons só is. Nou ja, ons het almal seker van tyd tot tyd meer as genoeg rede om ongelukkig wees. Maar die teenwaarheid is ook: ons het almal altyd meer as genoeg rede om eerder dankbaar en tevrede te wees met dit wat ons wél het. Dink ons mooi daaroor, besef ons dan in skaamte dat daar soveel alledaagse, gewone en vanselfsprekende dinge is wat ons lankal nie meer raaksien, beleef en waardeer nie. Dinge en mense wat so deel van ons lewens is, dat ons nie meer die voorreg en vreugde van die gawe daarvan besef nie ... totdat dit op ’n dag van ons af weggeneem word! Eers dán, eers wanneer ons die sogenaamde vanselfsprekendhede verloor het, besef ons die onvervangbare waarde daarvan. Wanneer jy weer so ’n ek-wens-ek-was-ánders-emosie of ek-verdien-meer-gevoel ervaar, word dan vir ’n oomblik stil en vra die Gees om jou dié dinge te wys wat jy lankal nie meer raaksien nie. Bid dat Hy jou hart sal oopmaak sodat sy sagte vrede dankbaarheid in jou sal skep vir die “alledaagse” wonders, die “vanselfsprekende” voorregte, die “gewone” mensweesgoed, die “sleur-van-die-lewe” dagtake, die “onsienbare” vreugdes en die “maar-net-daar-wees-ménse” in jou lewe . Begin dan om sommer net dankie te sê vir elke klein en groot stukkie wonder in jou lewe, alles wat góéd is, wat wel wérk, wat gebéúr en wat lééf. Sê dankie vir elke mens in jou lewe, vir dit wat móói in hom of haar is, dit wat hy/sy vir jou betéken en die verskil wat jy aan ander se lewens kan maak. Hou aan dankie sê vir die wonder van sy skepping, vir die voorreg van eenvoudige dinge en gewoon-wees-mense ... vir alle kosbaarhede — hoe onbenullig dit ookal mag voel. Jy sal ervaar dat dankbaarheid jou hart sal suiwer van ontevredenheid, onnodige begeertes en onvergenoegde gedagtes en jy gevul sal word met ’n diep gevoel van vrede-blydskap. Word elke dag opnuut opgewonde dankbaar oor die lewe. Want dís die léwe! Vergewe my, Vader, dat ek so dikwels die goed en mooi van die lewe verbloem met my eie grys gedagtes. Maak dié dinge waarvoor ek dankbaar behoort te wees, weer vir my glashelder en duidelik. Ja, Here, leer my ’n tevrede-vreugdemens wees. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM