Banger word versus kleiner word
deur Stephan Joubert Die slim mense sê ons word banger soos wat ons ouer word. Daar ontwikkel meer reseptore vir vrees in ons brein. Miskien doen die lewe ook ’n paar ander dinge met ons koppe, as ons nie oppas nie:
Die lewe het ’n manier om ons te ontnugter. Wie weet hoeveel mense in die land is kwaad vir die kerk, die regering, die onderwys — ja, sommer vir almal!
Ons geestelike are verstop en verkalk, want ons raak te gewoond aan heilige dinge. God kan ons nie meer verras nie want ons dink ons ken al die antwoorde. Ons weet wie’s reg en wie’s verkeerd; wie’s in en wie’s uit.
Die oplossing: RAAK KLEIN VOOR GOD. Jakobus roep ons dringend op om ons onsself kleiner te krimp voor God. Hoor net (Jakobus 4:8-10, Die Boodskap): Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan. Wanneer ons kleiner en laer voor die drie-enige God leef, dan het ons nie nog tyd oor om te fokus op alles wat verkeerd is met die res van die lewe nie. Dan ontkalk die Here ons geestelike are en “detoks” ons geestelike metabolisme sodat negatiewe emosies hulle houvas op ons verloor. Om laag aan die Here se voete te wees totdat Hy ons op ons voete tel, is die roete tot ’n lewe van egte vryheid. Kleiner en laer stel ons in staat om weer in verwondering voor ons groot God te leef.