top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Humor of Sarkasme?

deur Elmarie van der Westhuizen Was jy al ooit in ’n geselskap waar een iemand ’n sarkastiese opmerking maak oor iemand anders en dan is jý skaam en ongemaklik daaroor? Meestal word die sarkasme uitgedeel as ’n grap, maar die een aan die ontvangkant lag definitief nie saam nie! Soms het die persoon dit regtig as ’n grap bedoel, maar dit is nie so ervaar nie. Humor is tog slegs snaaks as albei persone daaroor kan lag. Waar humor getuig van simpatie, vriendelikheid en verdraagsaamheid, is sarkasme eintlik ’n vorm va passiewe aggressie. Ek kan iets nie reguit sê nie nou sê ek dit maar grappenderwys met ’n lelike steek daarby! Wat ookal die rede is hoekom ons dit doen — baie seer en skade word gedoen wanneer skewe “humor” gemik word op mense om ons. “People who shrug off deliberate deceptions saying, ‘I didn’t mean it, was only joking’, are worse than careless campers who walk away from smoldering campfires.” — Proverbs 26:18-19, The Message Rodney Wilson praat in sy artikel Cut the Sarcasm oor die skade van sarkasme. Hy skryf ”My dictionary is ancient, but its definition of sarcasm is classic. ‘Sarcasm’ comes from a word meaning ‘to tear flesh, like dogs.’ It means to be brutal, have no mercy, be vicious, go for the jugular, tear flesh the way a dog would.” Dit klink nie soos iets wat ons as kinders wat God liefhet aan mede boeties en sussies in Christus, of aan enige iemand anders, moet doen nie! Om mense met liefde en respek te behandel, hulle nie af te breek met snydende sarkasme nie, is tog wat ware liefde in Christus is. Hoe maklik is dit nie vir ’n ouer om ’n kind met ’n sarkastiese opmerking stil te maak nie, of huweliksmaats teenoor mekaar — sonder om te dink aan die uitwerking daarvan! ’n Gereelde dosis sarkasme kan die mooiste verhouding laat skipbreuk lei. Om heeltyd op jou hoede te moet wees vir die volgende snyende opmerking beroof enige verhouding van vertroue en veiligheid. Respek staan ook nie midde in hierdie tipe humor nie! Inteendeel, dit beroof die ontvanger daarvan van vreugde en vrede. Dit wys geen geduld of goedheid van my kant nie en van vriendelikheid, goedhartigheid en selfbeheersing is daar nie sprake nie. In Lukas 6:31 leer Jesus vir ons so mooi: “Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” Dit sluit die manier waarop ons met hulle praat in. Vra jouself altyd af voordat jy praat: “Gaan my woorde en dade ander opbou en aanmoedig of afbreek?” Selfs wanneer ’n grappie of humoristiese opmerking ’n situasie kan verlig is dit goed om weereens jouself in die ander ou se skoene te plaas en te dink hoe jy dit sou ervaar. Soek liewer na gesonde maniere om humor in ’n gesprek te beoefen. Met erkenning aan: Keith & Cindy Wright: Humor that hurts

bottom of page