top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Om in die mis te loop

deur Milanie Vosloo Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. — Psalm 37:4-5 Het dit al vir jou gevoel of jou vertroue opraak? Wonder jy soms hoeveel en hoe lank jy nóg toe-oë moet vertrou voordat dinge verander, jy antwoorde op jou kwelvrae kry, jy lewensvreugde gaan ervaar ... voordat jy kan sien waarheen jy oppad is? Ja, om God blindelings te vertrou is nie altyd maklik nie. Veral nie as die pad vir lang rukke donker, onbekend en moeilik is nie. Maar vertroue, leer die Woord ons, is altyd die moeite werd. Juis omdat God onwankelbaar betroubaar is. En hierdie vertrouenswaardige Here sê vir ons:

  • My kind, jy hoef nie altyd te wéét nie. Ék weet. Vertrou My daarom ook vir die onbekende.

  • Ek weet jy sukkel om te verstaan. Wéét: jy’s nie gemaak om te verstaan nie. Jy’s gemaak om My — die God wat wel alles verstaan — te vertróú.

  • Jou pad is nie altyd maklik nie. Onthou jy net dat Ek altyd — onder alle omstandighede — lewensgetrou aan jou bly. Dat Ek jou hand nooit los nie, jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek sal laat nie. Veral nie as jy sukkel, stoei en seer is nie.

John Baillie het gesê, God verwag geen indrukwekkende werke van ons nie, ook nie oordrewe opofferings of asketiese afsondering van die wêreld nie. Hy verwag net dat ons Hom kinderlik sal vertrou. Liewe vrou, vertroue ... is om in die mis te loop. Dis om tree vir tree vorentoe te beweeg sonder dat jy sien wat môre inhou en sonder om te weet hoe jou eindbestemming gaan lyk in dié wete dat jou Vader langs, agter en voor jou is. Ware vertroue is om die volgende tree te gee met die seker wete dat die mis wél sal verdwyn en dat daar aan die einde van die pad ’n kristalhelder vreugde-prentjie voor jou sal verrys. As jy dus soms wonder of en hoe lank jy nog moet vertrou, is die antwoord: Jy kán maar jou Vader onophoudelik en vir ewig vertrou. Wanneer jy dit doen, verruil jy as’t ware jou eie swakheid vir sy onmeetlike krag; jou onwetendheid vir sy alwetendheid en jou menslike onvermoë vir sy alles-is-moontlikheid. Plaas jou hand vandag, môre en al die oormôre’s van jou lewe in die hand van jou groot Genade-God en weet: Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. — Filippense 4:19 Dankie getroue Vader, dat U belowe dat U my nooit sal verlaat nie en dat U my brose lewe in u allesomvattende genade vashou. Ek volg U met my hele hart. Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM

bottom of page