top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

In reg wag lê daar groot krag

deur Stephan Joubert Toe ek iewers ’n advertensie raaksien wat sê die menslike gees is nie vir toustaan gemaak nie, dink ek by myself dit geld van ons lywe ook. Luister gerus na die gemiddelde toustaner dan hoor jy gou-gou klagtes oor swak diens en wat nog alles. Trouens, dit vat net ’n paar minute in enige lang ry om baie mense in professionele murmureerders te verander. Tog is wag ’n deel van ons elkeen se lewe. Ons wag iewers op diens; ons wag op mekaar; ons wag selfs op beter dae... En dit frustreer ons want dit voel al te veel na tydmors. Hoe gemaak met die Here se opdrag in die Bybel dat ons op Hom moet wag? Gedeeltes soos Psalm 130 of Psalm 131 sê dat ons op die Here moet wag, nou en vir altyd. Wel, die punt is dat ons nie op dinge uit sy hand wag nie. Ons wag nie op diens of antwoorde nie: ons wag op Homself. Sy teenwoordigheid is die antwoord; die genesing; die deurbraak; die oplossing! Sy teenwoordigheid is meer as genoeg. Om op die Here te wag, is ’n lewenslange roete waar ons al hoe meer van onsself vergeet. Dag en nag wag ons net op die Here. Sy liefde; sy goedkeuring; sy omgee is al wat saakmaak. In dié proses krimp ons selfsugtige behoeftes en self-aangedrewe begeertes. Al wagtende skyn sy genade en liefde meer en meer deur. Al wagtende word ons omvorm tot bruikbare weerkaatsers van God se genade.

bottom of page