top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die moordenaar, die slagoffer en die prima donna

deur Alet Gardner

“You can’t sell what you ain’t got,” vertel ’n Amerikaanse verkoops-guru. Net so kan ek as Christen niks gee wat ek nie het nie.

God het my lief en het ’n wonderlike plan vir my lewe – om ambassadeur te wees vir sy Koninkryk. Hy gee my sy Gees van krag en liefde en selfbeheersing, van gesonde verstand. Omdat Hy my lewe bepaal en ek slegs daarop hoef te reageer, en nie vanuit my pieperige selfbeeld op die hakerigheid of selfs moedswilligheid van mense om my nie, kan ek met vrymoedigheid uitstap en ’n blessing wees vir my huis- en werksgenote en vir die wêreld daarbuite. My mondering hiervoor is: die goue onderkleed van Jesaja 26:3-vrede, en die beskerming van my Efesiërs 6-wapenrusting – ’n waardige ambassadeur vir Christus.

Ek is één met Jesus, ’n nuwe skepping – die ou dinge is verby, die nuwe is hier. Dit impliseer dat ek ook nie met ’n vergrootglas die “ou mens” in ander sal soek nie, maar die “nuwe mens” sal sien en waardeer en aanmoedig tydens die aanhoudende proses van herskepping, tydens hierdie reis van groei om meer en meer soos Jesus te word. Dit impliseer dat ek nie emosionele “moord” sal pleeg deur met kwinkslae en sarkasme en kitsoplossings bo-oor ander se behoeftes en seer te loop nie, maar met begrip en empatie vir die emosionele bagasie waarmee my naaste voortsukkel, in liefde uitreik en eerder bemoedig as afbreek. Dat ek hierdie mens met verlepte vlerke opbou om weer (of dalk vir die eerste keer) met vertroue te kan vlieg.

Dalk is ek self die een wat soos ’n slagoffer voel na jare se verwerping of mishandeling of die verlies van ’n dierbare of van my gesondheid. Dis wanneer ek aan my Vader se voete moet gaan sit, sy troos ervaar, die oorwinning van Jesus vir myself toe-eien en die Heilige Gees toelaat om my hele wese, my hele verstand te deurdrenk sodat ek nie meer soos ’n slagoffer bly lê, of soos ’n prima donna tantrums gooi omdat ander my nie op die hande dra (of met handskoentjies wil hanteer) nie, maar dat ek opstaan en uitreik na ander met die troos waarmee ek getroos is. Daar is baie ander in die wêreld wat net so swaar of nóg swaarder kry.

Amanda (skuilnaam) vertel hoedat sy in Irak by ’n bejaarde vlugtelingvrou gesit het wat alles verloor het en nie eens behoorlike versorging het nie – met niks anders om te bied as ’n lekkerruik handwasmiddel om hierdie blinde ontwortelde vrou se hande te masseer terwyl hulle nie ’n woord van mekaar kan verstaan nie, maar saam kan huil oor die ontsetting van oorlog.

So kan ek ook sê: “Wat ek het, gee ek vir jou in die Naam van Jesus Christus...” (Handelinge 3:6)

bottom of page