Jy is minstens ’n lewende hond en nie ’n dooie leeu nie
deur Stephan Joubert Dalk moet jy ook gereeld oor spoedwalle ry. Spoedwalle is spoedbrekers. In die regte lewe loop ons soms ook in spoedwalle vas. ’n Onverwagse siekte, ’n afdanking of ’n gesinskrisis gooi jou lewe skielik uit rat. Spoedwalle tap jou energie en jaag jou stres op. As jy nie leer om reg oor sulke spoedwalle te beweeg nie, wag daar moeilikheid op jou. Hoe leef jy stadiger oor die lewe se spoedwalle? Wel, jy begin deur terugslae te verstaan as geleenthede om jou ongetelde seëninge te tel. Besef opnuut in sulke tye dat jy minstens nog leef. Van jouself geld die Prediker 9 se woorde dat ’n lewende hond beter is as ’n dooie leeu! Jy is nie ’n dooie trofee teen ’n muur nie. Daar is nog tyd oor om weer jou stert te leer swaai en nogmaals vrolik te blaf. Daar’s nog suurstof oor in jou longe en die Here is steeds God. Jy kan weer saam met Hom leer. Vat sy hand stywer vas. Loop van nou af slegs een tree op ’n slag voorwaarts. Leer ook om wyser te leef. Moenie jou so ontstel oor alles nie, soos wat Psalm 37 leer. Jy is nie Atlas wat die hele wêreld se probleme hoef te dra nie. Dien die Here!