top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wees ’n dienaarleier deur opleiding van jou werknemers

deur Luther Backer In my bydrae vir hierdie rubriek 5 maande gelede het ek onderskei tussen selfgerigte leiers en dienaarleiers. Die vraag ontstaan nou op watter manier ’n leier van diens vir sy werknemers kan wees. Ek het in ’n landswye stydie van werksmotivering by werknemers op verskillende werksvlakke en in verskillende nywerhede vasgestel dat die geleentheid om te kan groei en ontwikkel in die werk ’n baie sterk bron van tevredenheid vir werknemers is. Werknemers is ten volle van hulle hoofde afhanklik vir skep van opleidingsgeleenthede, maar daar bestaan geen hofgesag wat impliseer dat teen ’n werkgewer opgetree kan word as hy opleiding gladnie of op onvoldoende wyse verskaf nie. Hoofde moet seker maak dat opleiding in spesifieke omstandighede nodig is om werkverrigting te verbeter en produktiwiteit te verhoog en dat opleiding nie vir opleidingshalwe gedoen word nie. Daar noet dus altyd ’n baie duidelike doel vir opleiding wees. Die doel van die opleiding van Sy dissipels is duidelik uiteengesit in Mat 28:19-20 waarin Hy Sy finale opdrag aan hulle gee, d.w.s. wat hulle moet kan doen wanneer Jesus nie meer met hulle is nie: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Jesus, ’n opleier van uitmuntendheid Blanchard en Hodges in Lead Like Jesus, W Publishing Group 2005, p. 112 wys daarop dat Jesus aarde toe gekom het as ’n onderwyser, as ’n leier en as ’n opleier om mense voor te berei om uit te gaan en ander mense te help om volgens die visie wat Hy van sy Vader ontvang het te lewe. “Eendag toe Jesus langs die See v an Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met my, en ek sal julle vissers van mense maak” (Mat 4:18-19). Hy het ’n verdere tien mense geroep om hom te volg en ook het HY te kenne gegee dat Hy hulle wat niks van dissipelskap geweet het nie, die nodige opleiding te gee. Jesus het sy dissipels self uitgekies en al was van hulle nie hoog geleerd nie, het Hy geweet dat hulle die potensiaal gehad het om die nodige kennis en vaardighede baas te raak. Die opleiding het hulle toegerus om te weet waar om te gaan, wat om te sê en hoe om dit te doen... “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit...” (Mat 10:5-14). Jesus het ook aandag gegee aan die leierskapsfunksies wat direk met die leer van nuwe vaardighede en kennis te doen het, naamlik prestasie — evaluering, erkenning, aanmoediging en inspirasie. Wat prestasie-evaluering betref het Jesus deurlopend terugvoering aan sy dissipels gegee. Die treffendste voorbeeld hiervan is die ontsteltenis van die dissipels omdat hulle nie die duiwel kon uitdryf uit ’n geestelik versteurde seun nie. Jesus se hulp is gevra deur die seun se vader en Jesus het hom gesond gemaak. Die dissipels wou van Jesus weet waarom hulle nie daarin kon slaag om die seun van die duiwel te verlos nie.Jesus het dit aan hulle klein geloof toegeskryf (Mat 17:14-21). Tydens die drie jaar wat die dissipels deur Jesus onderrig is, het Hy hulle nooit aan hulself oorgelaat nie; Hy was altyd daar om hulle te ondersteun wanneer hulle hom nodig gehad het soos om Petrus te red toe hy op die water geloop het en van vrees begin sink het (Mat 14:28-31). Om ’n werknemer opleiding en ontwikkeling te gee is een van die doeltreffendste en waardevolste maniere om van diens te wees aan jou werknemers. Daarmee gee jy te kenne te gee dat jy as leier in hom/haar belangstel en dat jy jou tyd en aandag wil spandeer in die persoon se ontwikkeling. Dit is ook ’n kragtige manier van erkenning. Kyk net na die voorbeeld van Jesus self as opleier. Ek het op ’n keer ’n kursus in produksieveiligheid vir bosvoormanne in die bosboubedryf aangebied. Vir die meeste voormanne was dit hulle eerste formele kusus en omdat hulle bevrees was dat hulle gebrek aan kennis van die onderwerp hulle in die skande sou steek, was hulle maar baie terughoudend in die begin. Toe ek egter hulle kans gee om hulle ervaring met die klas te deel en ek hulle aanprys vir hulle bydraes, het hulle ontdooi, geblom en met ongekende entoesiasme die kusus voltooi. Vir hulle was die opleidingsgeleentheid ’n wonderlike ervaring waarin hulle erkenning gekry het en wat bygedra het tot hul sin van eiewaarde.

bottom of page