top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ester praat...

deur Stephan Joubert Die boek Ester vertel die verhaal van Ester en haar oom Mordegai wat die Jode in Persië se lewens gered het in die tyd van koning Ahaseveros. Hierdie koning, ook bekend as Xerxes I, het geheers vanaf die jaar 486 tot 465 voor Christus. Ester lees soos ’n spannende novelle. Ons lees onder andere hoedat Ester se skoonheid gemaak het dat koning Ahasveros haar tot sy koningin kies. Nie haar groot geloof nie, maar haar “Me. Wêreld” voorkoms is deur God gebruik om haar in ’n sleutelposisie in die Persiese Ryk te plaas (2:1-18). Kort hierna red haar oom Mordegai die koning se lewe as hy ’n komplot teen hom ontmasker. (2:19-23). Maar dan vervies die Persiese eerste minister, Haman, hom vir Mordegai en besluit om al die Jode uit te wis (3:1-15). Dadelik het Mordegai by Ester gaan hulp vra. Alhoewel sy aanvanklik huiwer, besluit sy tog om met die koning te gaan praat (4:1-17). Sy doen dit op ’n slim manier deur vir Ahasveros en Haman vir twee agtereenvolgende etes uit te nooi (5:1-8). Intussen draai Haman se planne om Mordegai dood te maak teen hom. Sy eerste vernedering is toe hy meen die koning wil hom in die openbaar vereer (6:4-10). Maar die koning het vir Mordegai in gedagte gehad omdat hy sy lewe vroeër gered het. Asof hierdie vernedering nie erg genoeg is nie, ontmasker Ester ook Haman se komplot om die Jode te vernietig aan die koning (7:1-10). Die gevolg: Haman sterf aan die galg wat hy vir Mordegai gebou het. Intussen het Ester en Mordegai ook daarin geslaag om ’n nuwe dekreet uit te skryf wat die Jode in staat stel om hulleself te verdedig (8:1-17). Hierna word die Purimfees ingestel (9:6-32). As die laaste kersie op die koek word Mordegai bevorder tot die tweede belangrikste persoon in die land (10:1-3). Ester sê vir ons:

  • dat God nie noodwendig baie mense nodig het om sy planne deur te voer nie. Hy het net ’n paar kinders in sleutelplekke in die lewe nodig — soos Mordegai en Ester. Vandag nog kan ’n handjievol mense wat God op die regte plekke dien veel groter invloed uitoefen as ’n massa godsdienstiges wat in ’n winterslaap verkeer.

  • dat God se wil op die ou end wen, ten spyte van sy vyande se bose planne.

  • dat God omgee om vir sy mense, al is hulle ’n bedreigde minderheid. God is nooit afwesig as sy kinders swaarkry nie. Nooit nie.

Kyk asseblief rondom jou, dan sien jy vandag baie “Esters” onder die lewe se radarskerms raak wat presies op die regte tyd op die regte plek is. Is jy tans ook daar waar God jou kan gebruik? Suid Afrika en die res van die wêreld kort dringend nog ’n paar sleutelspelers op die regte plekke.

bottom of page