top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Moderne afgode

deur Marietjie Joubert 1 Samuel 7:3 Ek het al baie gesê dat ek so bly is ek leef in die tyd waarin ek leef. Ek dink dis 'n wonderlike era. In my leeftyd is die wonderlikste goed ontdek. TV, rekenaars, internet bankdienste, wi-fi, iPad, selfone, koffiewinkels ens. Ek kan nog baie by die lysie voeg. Elkeen van hierdie goed kan op sy eie vir ons 'n afgod word. Ons verbruikersmentaliteit kan ook 'n groot kopseer wees. Ons lees in Samuel dat hy die volk aanspreek om terug te keer na die Here toe. Hulle moet hulle afgode afbreek en hulle verootmoedig voor die Here. Ons afgode neem ons tyd op. Ons word so verswelg deur tegnologie en die drang om te wil hê en verbruik, dat ons van die Here vergeet. Met alles wat ons tot ons beskikking het, is dit maklik om die Here op die agtergrond te skuif en gerieflikheidshalwe van Hom te vergeet. Ek kom mos heel goed reg met al my tegnologie en alles wat ek vir myself kan koop. Ek kom nie eens meer agter dat ek nie tyd het vir die Here nie want ek moet eers kyk wat op Facebook gebeur en gou 'n selfie van my oplaai. Ek raak so vasgevang in al die sosiale media dat ek nie tyd het vir die Here en lewende vriende nie. Dis, die moderne afgode van ons lewe. Hierdie tydstelers wat ons weghou van die Here af, is die nuwe afgode van ons tyd. Voor jy jou kan kry is jy vasgevang. Maak weer tyd vir die Here. Skakel bietjie die selfoon en die sosiale media af. Vergeet van koop en die winkels. Spandeer weer tyd saam met die Here. Ons teksvers sê as jy regtig ernstig is oor die Hom, sal jy hierdie ander gode in jou lewe vernietig. Jy hoef egter nou nie jou iPad en foon stukkend te gooi nie. Nee, jy kan net meer bewustelik tye sonder dit hê, tye wat dit afgesit is en jy tyd saam met die Here spandeer. Maak tyd vir die Here elke dag in jou lewe. Ruim vir jou 'n gedeelte in die dag in waar jy met Hom kan praat en Bybel kan lees. Laai die Bybel op jou selfoon af, en lees dit in tye waar jy op Facebook sou wees. Raak weer ernstig oor die Here in jou lewe. Gebed Here, ek is ernstig oor U. My tyd saam met U is ononderhandelbaar. Amen

bottom of page