top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Geloof word nie sommer net so verloor nie

deur Stephan Joubert “Ek het my geloof verloor,” vertel iemand in ’n gesprek. “Dis nog niks; ek het my beursie verloor,” reageer iemand anders. Terwyl almal verleë hieroor lag, wonder ek by myself hoe verloor mens jou geloof presies? Dit kan tog net gebeur as jy aan geloof dink as een of ander item, objek of besitting waaroor jyself volledige beheer het. Geloof is egter nie ’n skakelaar wat jy kan aanskakel en afskakel wanneer dit jou pas nie. Geloof, soos wat die Bybel hieroor praat, is ’n lewende verhouding met God. In hierdie verhouding is ons die verlore eiendom wat teruggevind is deur die Goeie Herder, soos wat Jesus vertel in Lukas 15. Hy het juis gekom om sy Vader se kosbare eiendom te kom opsoek. Hy kon dit nie vat dat sy Vader se aardse eiendom hier in die wind en die weer rondhang nie. Hy is die Een-Man soekgeselskap van God wat verlorenes soek totdat Hy hulle vind. Dan dra Hy hulle terug na God se feessaal toe. Dus, as jy dreig om jou geloof te verloor, of as jy van iemand hoor wat dit oorkom, onthou dan God spesialiseer in verlore items. Hy laat Homself nie so maklik verloor nie!

bottom of page