top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Is geloof sinoniem met twyfel?

deur Stephan Joubert Ek loop laasweek weer vas in Wilhelm Jordaan se artikel oor geloof, twyfel en pyn wat in Die Beeld op 18 Julie verskyn het. Hierin neem hy afskeid van geloof in Jesus as bonatuurike Seun van God, terwyl die Bybel ook as ’n versameling tydbepaalde religieuse dokumente verstaan word. In dieselfde asem pleit hy egter om steeds “onverwoesbaar” deel van sy gemeente te bly. Mens sou lank met Wilhelm kon gesels oor sy verstaan van die evangelies vanuit ’n geslote geskiedenisbeskouing. Ook sou jy met hom kon gesels oor sy subtiele taal-spel (soos sy keuse vir rasionele taal waarmee gelowiges omskryf word wat Bybelse waarhede glo [hulle word selfs getipeer as tradisievastes], terwyl hy deurgaans empatieke emosionele terminologie vir homself gebruik). In dieselfde asem sou dit ’n interessante gesprek wees om te hoor hoe Wilhelm uit die hoek ontsnap wat hy vir homself bou met sy keuse vir geloof as ’n mistieke ervaring van God en ’n gepaardgaande verskilmaak in ander se lewens, “...eerder as om eindeloos oor korrekte geloofswoorde te redeneer en onverdraagsaam te raak as ander se geloofstaal jou nie aanstaan nie.” Terwyl Wilhelm ingrypende teologiese uitsprake oor die van die Christendom loslaat, isoleer hy homself met sulke woorde by voorbaat teen enige indringende kritiek, as sou dit per implikasie liefdeloos wees. Twyfel is ’n realiteit. Die meeste van ons begryp dus iets van Wilhelm se eie worstelinge. Daarom is dit goeie nuus dat die kerk ook bedoel is vir mense wat stoei en roei met die waarheid. Nêrens is daar bordjies in die kerk van Christus met woorde wat uitroep: “Slegs nie-twyfelaars en uitgesorteerdes welkom” nie. Maar dan mag twyfel ook nie nuwe “morele hoëgrond” word wat die ware evangelie muilband nie. Twyfel is nie ’n deug nie. Dis nie ’n toestand om te omhels asof dit die nuwe in-ding is om te doen nie. Twyfel is ’n plek om vanuit te groei, anders raak twyfel toksies. Die korrekte roete hieruit is steeds daardie ou bekende lied: “Al my twyfel bring ek Jesus!” Wanneer ons saam met Tomas in Jesus vasloop, praat ons graag sy belydenis agterna: “My Here en my God.”

bottom of page