Nie opstaners nie, maar goed-doeners (ook as geloof in ons skole bedreig word!)
deur Stephan Joubert John Woolman (1720-1772) was ’n kleremaker van beroep. Hy was bekend omdat hy gehelp het om slawerny af te stel binne Amerikaanse “Quaker” Gemeenskappe. Hierdie opregte man van God se stil, sterk teenwoordigheid het spoedig wyd en syd bekend geraak. Toe hy een keer met ’n groep Indiane gesels, staan een van hulle leiers op en kom sit sy hand op Woolman se bors. Vir ’n oomblik was Woolman uit die veld geslaan. Toe wys die Indiaan vir hom om aan te hou met praat terwyl hy sê: “Ek hou daarvan om te voel vanwaar mense se woorde kom.” Hy het toe vir die hoorders gewys hulle kan maar na Woolman luister want hy praat hartlangs eerste. Uiteindelik het Woolman deur sy deernis en innerlike oortuiging baie met die Here se liefde geswaai om anders te dink oor slawerny. Mense wie se harte deur God se Gees verander is praat ’n ander taal. Hulle doen goed en praat reg. In die woorde van 1 Petrus 2:15 staan hulle nie maar net op vir die Here nie. Nee, hulle doen goed aan ander sodat die kwaad wat mense praat oor ons geloof met liefde stilgemaak word. Terloops, daar’s ’n groot verskil tussen opstaners en goed-doeners in Jesus se Naam, ook wanneer geloof in ons skole onder skoot kom:
Opstaners is luidkeels en soms ook aggressief oor hulle geloof. Goed-doeners, daarenteen, is dienaars. Met deernis en sagtheid versprei hulle die lieflike geur van Christus.
Opstaners dreig ander met straf en militante aksies. Goed-doeners kies konsekwent vir die pad van Christus en loop tweede myle met diegene wat van hulle verskil.
Opstaners vir God neem maar weer hulle sitplekke in as hulle stoom verloor het, of as die res van die opstaan-bende nie meer lus is vir die geveg nie. Goed-doeners, daarenteen, leef en praat uit nuutgemaakte harte. Hulle hou nooit op om goed te doen nie, al is hulle alleen.
Opstaners verander dikwels in geestelike straatvegters vir die Here. Goed-doeners, hierteenoor, is die Here se knegte. Nee, hulle is nie jellievisse wat almal gelukkig probeer hou nie, maar hulle verskil altyd met integriteit en ’n kalmte van gees wat Christus waardig is. Daarom luister mense graag na hulle. Soos Woolman praat hulle harttaal eerste, Christus S’n!