Plant vandag ’n appelboom
- ekerkweb
- Sep 3, 2014
- 1 min read
deur Milanie Vosloo Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef. — Openbaring 22:11c Martin Luther het gesê as Christus môre kom, sal ek vandag nog ’n appelboom plant. Hiermee se Martin dat afwagting op die wederkoms nie ’n passiewe daad is nie, maar dat dit iets is wat aktiwiteit vereis. Dit vra van ons as sy kinders om te bly dóén. Gelowiges kan anders na die wêreld en die wederkoms kyk. Vir ons is Christus se koms nie die begin van die einde nie, maar eerder die einde van die begin. En die begin van iets nuuts: van ’n nuwe dag; ’n nuwe manier van leef; ’n nuwe tyd van ewigheid. Juis omdat ons met verwagting kan uitsien na ons Here se weer koms, kan ons elke dag ten volle leef. Ons kan in ons werk elke dag ons appelbome met passie plant, in ons verhoudings elke dag liefde plant en in ons eie harte elke dag ’n stuk vrede plant: vrede in die wete dat ons Verlosser se hemelvaart nie die einde was nie, maar dat Hy gegaan het om vir ons ’n nuwe begin te maak. Hy het ons vooruit gegaan sodat ons elke dag van voor af kan lééf. Gaan plant vandag jou appelbome deur alles wat jy doen, met passie en toegewydheid aan te pak, met vreugde te deurleef en met verwagting deur te voer. Here, mag ek, tot U kom, voluit leef. Mag ek aanhou om die liefde te leef.
Recent Posts
See AllBrad Huddleston DIGITAL COCAINE A journey toward iBalance Christian Art 2016 Sosiale media het soos ‘n reuse bom ontplof en die hele...
Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek...
Inkleurboek KLEURVOLLE INSPIRASIE VIR GROOTMENSE Kikker jou lewensreis op met kleur en Bybelse inspirasie Illustrasies deur Amylee Weeks...