top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

“BIGGER AND BETTER:” SO GEBEUR ONS NUWE IDENTITEIT

deur Stephan Joubert Ons nuwe naam en identiteit is geanker in Jesus. Sy twee woorde: “Volg MY!” is die ABC en die XYZ van ons bestaan, en alles tussenin. Volgens 1 Johannes 3:1 is ons kinders van God. Kinders van God en dissipels van Jesus — dit is dus presies wie ons is. Van dissipels gepraat, ons is navolgers van Christus vanaf die eerste oomblik dat Hy ons roep. Ons word dit nie later in ons lewe nie. Jesus roep slegs dissipels om agter Hom aan te kom. Daar bestaan nie iets soos “gewone” Christene wat Jesus deeltyds navolg en ’n kleiner groepie voltydse dissipels nie. Ook roep Jesus ons nie in die eerste plek om ’n klomp dinge vir Hom te gaan doen nie. Hy roep ons heel eerste agter Hom aan. Hy sê ook nie waarheen nie. Hoor weer: Hy sê nie waarheen nie; Hy sê slegs agter Wie aan! Al wat Jesus se uitnodiging insluit is twee rigtingwysende woorde: “volg MY!” Hy nooi ons uit tot ’n voltydse verhouding met Homself. Hy vra van ons om onsself te verloor ten einde Hom te vind. Hy verwag van ons om op te hou om Hom net as Reisgenoot op ons pad te verwelkom. Hy wil hê dat ons eie pad doodloop in Hom. In Hom word ons weer gebore. Ons staan op in God se nuwe koninkryk. In een van my gunsteling boeke, Love does: Discover a Secretly Incredible Life in an Ordinary World, vertel Bob Goff hoe hy en sy seuntjie een keer die speletjie “Bigger and Better” gespeel het. Die speletjie begin met iets van min waarde, soos ’n 20 sent stuk. Dan gaan klop jy aan iemand se deur en vra of hulle nie iets van meer waarde wil verruil vir hierdie 20c nie. Dan vat jy weer dit wat jy geruil het en ruil dit nogmaals op vir iets van hoër waarde. Die doel van die speletjie is dat jy aan die einde van die dag moet opeindig met dinge van groter waarde as dit waarmee jy afgeskop het. Dan pas Goff dit toe op Jesus en sê Hy speel ook graag “Bigger And Better” met ons. Maar die spel gaan nie daaroor dat ons opeindig met meer geld, besittings of dinge nie. Hy daag ons juis uit om dit wat in ons eie oë saakmaak en wat as waardevol beskou word in die oë van die wêreld in te gooi in sy weergawe van “Bigger and Better.” In Goff se woorde vra Jesus van ons: “Will you take what you think defines you, leave it behind, and let Me define who you are instead?” Ons nimmereindigende poel van behoeftes loop leeg teen Jesus. Hy is Bigger and Better. Hy is alles. Jesus staan voor ons elkeen se deur en klop. Hy is bereid om ons 20c geloof te vat en op te ruil vir ’n lewe van vryheid en vreugde saam met Hom. Alles wat ons het in ruil vir Hom. Dis presies wat Paulus in Filippense 3 skryf. Alles verwater en verval in die lig van Jesus. In Hom is ons nuwe identiteit gesetel. — UIT: JY KAN ’n VERSKIL MAAK. CUM BOEKE: 2014

bottom of page