top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Systap stereotipes

deur Stephan Joubert

  • “Enigeen kan ’n fout maak,” sê die spreekwoord. “Enigeen hoef nie,” antwoord wysheid.

  • “Ek het maar so groot geword,” lui die standaard opmerking. “Jy hoef nie so oud te word nie,” reageer wysheid.

  • “Ek is maar net ’n mens,” sê ’n ieder en ’n elk. “Ons is na God se beeld geskep” verkondig die Bybel.

  • “Ons is begenadigde sondaars,” sê sommige kerkmense. “Iemand wat in ’n Christus is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby; die nuwe het aangebreek,” antwoord Paulus in 2 Korintiërs 5:17.

  • “Ek kan nie meer nie,” is die gevoel van vele in krisistye. “Ek weet wat dit is om te min te hê en wat dit is om oorvloed te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is” (Fil 4:12-13: Die Boodskap).

  • “My lewe maak nie saak nie,” dink party mense. “Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats,” antwoord Paulus in 2 Korintiërs 3:18.

Stereotipes is die storie van derduisendes se lewe. Stereotipes verander ons almal in slagoffers. Ons vooroordele oor ander hou ons gevange. Dit kan in lewenslange gevangenisskap verander indien ons nie hieruit ontsnap nie. Daarom dat ons kennis en wysheid kortkom, God se soort. Dit begin met opregte eerbied vir die Here. En dit mond uit in ’n lewenslange groeikurwe op sy pad. Hier gaan dit oor daaglikse keuses om God lief te hê, asook respek vir ander. Kennis en wysheid is die groot omdraai; die tweede bekering wat ons vrymaak van uitgediende stereotipes en stagnasie.

bottom of page