God is nie met ’n sonde-rehabilitasie program besig nie
deur Stephan Joubert In Efesiërs 4:28 skryf Paulus dat diegene wat gesteel het dadelik daarmee moet ophou en hard moet werk sodat hulle ook iets het om met die armes te deel. Dis ’n mondvol. Nee, Paulus sê nie diewe moet op ’n “steel-minder” rehabilitasie program gaan nie. Sy opdrag is eenvoudig: Stop dit! Hou op met steel. Daar’s geen middelgrond nie. Paulus beveel ook nie aan dat ander gelowiges diewe moet help om al hoe minder te probeer steel nie. Hy verwag ’n skoon breek met die verlede. Te veel keer is ons te verdraagsaam met daardie sondes wat onsself pas. Ons verwag ander moet begrip hê vir ons humeur, ons geldgierigheid, ons biddeloosheid en wat nog alles. Tog is daar geen middelgrond nie. As ons van diewe verwag om dadelik op te hou met steel, dan moet ons almal ook dadelik ophou met ons eie “gunsteling” swakhede en sondes. Die Gees is regtig nie besig met ’n geleidelik sonde-ontgroei program in ons nie. Hy verwag van ons om in Christus se Naam onsself as dood vir die sonde te beskou, soos wat Paulus in Romeine 6 skryf. Dan moet ons presies so leef- dood vir sonde, maar lewend vir Christus!