top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Van Bekering Een tot Bekering Twee (Deel 2)

deur Stephan Joubert Ons is besig met ’n gesprek oor aanhoudende bekering. Mag ek dit met jou deel aan die hand van ’n nuwe boek van my wat pas by CUM Boeke verskyn het: JY KAN ’N VERSKIL MAAK.

  • Bekering twee verskuif my aandag toenemend vanaf kerk na koninkryk. Ek is nou nie meer so behep met al daardie dinge wat te alle koste moet “werk” in die kerk nie. Of met vrae soos hoe om groter kerklike betrokkenheid onder mense te kry nie. Ek het geleer God het ’n totaal ander telbord as die een waarmee ek myself na “bekering een” mee besig gehou het. Vir Hom gaan dit oor rus aan Jesus se voete en oor impak, nie oor geestelike instandhouding nie. Impak gebeur veral in my daarwees tussen nie-kerklikes, stukkendes, eensames, verlorenes, gieriges, rassiste, kapitalistes, losers, wenners, en wie ook al. Tydens my eerste bekering het ek gedink dit gaan oor watter kerk die grootste geestelike soutmynhhoop in stand hou. Of wie se getalle, geboue en begrotings die blinkste is. Nou begryp ek al hoe meer dit gaan meer oor ons lig wat in die donker moet skyn en ons sout wat smaak elders moet gee. Die kerk wen groot wanneer die kerk oorkant die straat aan diens is.

  • Bekering twee bevry my al hoe meer van my beursie. In die eerste fase van my geloof het dit oor my formele dankoffers gegaan wat ek so een keer per maand in ’n blitsvinnige saketransaksie kon afhandel by my plaaslike kerk. Die res van die maand, as iemand my om hulp genader het, kon ek wegkom met die moeder van alle verskonings: “Ek gee by my kerk.” Nou is die uitdaging anders. Nou vra die Here elke dag alles! Nou is my tyd, energie, geld, ja, my hele lewe in sy diens. Nou kan Hy enige oomblik op my knoppie druk om te gee, te deel, te bid, te dien. Nou loop Jesus heeltyd in vermomming op my pad in die vorm van armes, huisloses, werkloses...

  • Bekering twee leer my begryp kleiner is groter en voor is agter. Aanvanklik wou ek groter dinge vir die Here doen. Toe ontdek ek dat Hy my eintlik net toelaat om hierdie “groter” dinge te doen omdat Hy my nog nie met kleiner dinge kan vertrou nie. Jesus is immers op rekord dat ware grootheid in kleinheid geleë is. En dat voor agter is en sterk swak. Alles is andersom en onderstebo in die koninkryk. Regtig! Alles is agterstevoor. Soos vele ander gelowiges het ek Jesus nie regtig geglo op hierdie punt nie. Ek het tydens bekering saam met die res van die kompeterende godsdienstiges gehardloop vir voor, meer, groter, beter, sterker, vinniger, hoër, magtiger, wyer... Maar Jesus se oefenveld is kleiner, minder en swakker!

bottom of page