top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Hoe om hulp te gee aan die werkholis

deur Luther Backer Petrus sê in 2 Petrus 2:19: “As iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf.” Jy kan die slaaf word van ’n afgod wat God uit jou lewe stoot soos alkoholisme, dwelms, pornografie asook werkverslawing. Jesus het by verskeie geleenthede gewys op die belangrike rol wat werk in mense se lewe speel waarmee hulle God kan verheerlik, en selfs dat mens hard moet werk maar dat ons ons nie moet oorwerk nie: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie” (Spreuke 23:4), of obsessief oor ons werk raak nie. Die mees uitstaande kenmerke van werkholisme is gevoelens van gebrek aan sekuriteit, van minderwaardigeid en onsekerheid wat in die vorm van verkillende vrese na vore kom, soos vrees dat jy sal misluk in jou werk , dat jy sekere dinge nie sal kan bekostig waarsonder jy en jou gesin nie kan klaarkom nie en die vrees dat jy nie die posisies sal kan bereik waarna jy aspireer nie. Net soos die werkholis as kind slegs daarin kon slaag om sy ouers se goedkeuring deur harde werk en prestasie moes verdien, beïnvloed dit as volwassene dikwels sy siening van God naamlik dat hy God se liefde,aanvaarding en vergifnis ook moet verdien. Die werkholis moet verstaan dat God se liefde vry en onvoorwaardelik is en dat hy dit nie hoef te verdien nie. Paulus skryf in Efes. 2:8-9: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie uit julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.” Paulus verseker verder: “God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief” (Efes. 2:5). Die werkholis het ’n obsessie met werk en vergoeding en besittings en posisies en slegs wanneer hy ten volle die liefde van God verstaan sal hy begin om die vrugtelose geworstel om aanvaarding te kry op te gee en sal hy ook vry raak om sy werk te geniet (Bill Heybels,p.62-63). Johan Geyser van Mosaïek Gemeente doen vier voorstelle aan die hand hoe om die werkholis van sy vrese vry te maak: 1. Vind jou waarde in Christus In Mat.6:23-26 vra Jesus aan Sy dissipels of hulle nie weet wat hulle werd is nie: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Jesus wil nie hê sy volgelinge,ingeslote die werkholiste, moet nie hulle waarde hoofsaaklik in dinge soek nie.Hy wil hê dat hulle hulle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God beywer, dan sal Hy hulle ook al hierdie dinge gee. 2. Geniet wat jy het Werkholiste is die meeste van die tyd so besig om op te gaar en te presteer dat daar nie tyd is om te geniet wat hulle reeds besit nie.Hulle moet kennis neem wat in 1Tim 6:6-8 geskryf staan: “Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie;ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” Ons moet leer om vergenoeg te wees, d.w.s. om tevrede te wees met wat ons het. Ons moet nie net tevrede wees met wat ons het nie maar ons moet dit ook geniet soos in Prediker 3:12-13 aanbeveel word: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God.” 3. Beperk jou werk Die 4 de gebod lui dat in ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n opdrag van die Here. Ons moet gereeld rus omdat ons liggame rus nodig het — ons is so gemaak. Dit is interessant om te weet dat tydens die Franse Revolusie daar weggedoen is met die een rusdag in die week maar binne twee jaar het die samelewingstruktuur so verbrokkel dat hulle genoodsaak was om die weeklikse rusdag weer in te stel. Jesus self het dit nodig gevind om te rus waarmee hy besig was naamlik om ’n groot skare mense te leer en van hul siektes te genees al moes hy baie mense met groot behoeftes agterlaat terwyl Hy en sy dissipels met ’n boot die meer ingevaar het na ’n stil plek om bietjie te rus. Die werkholis voel altyd skuldig as hy nie besig is nie. Iets dryf hom gedurig om besig te bly. Hy verrig egter nie noodwendig altyd so baie terwyl hy net besig kan bly nie. As hy hom daarvan weerhou om op Sondae te werk, sal hy vind dat baie van die onrustigheid wat hy in hom het, sal verminder en dat hy vreugde sal put uit ontspanning saam met sy gesin. Sy pyne en siektes en slaaploosheid sal heel waarskynlik ook verminder. 4. Vertrou die Here Die werkholis moet verstaan dat in plaas van om gejaagd deur die lewe te gaan in jou soeke na rykdom en status en erkenning gedryf deur onsekerhede en vrese, wag daar ’n lewe van vrede en rustigheid op elkeen wat gehoor gee aan Paulus se oproep: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” (Hebr.13:5-6). In Mat.16:26 bring Jesus die gevolge van najaag na aardse goedere by Sy dissipels tuis met die vraag “Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?”

bottom of page