Van Bekering Een tot Bekering Twee (Deel 1)
deur Stephan Joubert My eerste bekering was belangrik... nee, lewensbelangrik. Maar my tweede bekering was, en is steeds lewenstransformerend. Die eerste bekering, toe ek kop aan Kop in Jesus vasgeloop het, het my bevry van my eie verlorenheid. Daar het Jesus oor al my sondeskuld geskryf: BETAAL. Daar het ek gehoor, en dit van toe af ook geglo, dat ek die ewige lewe het. DIE PROBLEEM: Bekering een het wel my status voor God verander, maar dit het nie my daaglikse lewe genoeg in die regte rigting beïnvloed nie. Na bekering een het ek godsdienstig geraak. Ek het al my rock ’n roll plate weggegooi, die duiwel begin beveg en ’n sondekenner van formaat geraak. Ek het almal vermaan, vasgevat en versend na of die hemel, of die hel. Ek was regtig nie ’n plesier om mee saam te leef nie. Genadiglik het bekering twee toe aangebreek. Deur die Here se goedheid het ek stadig maar seker agtergekom ek maak weinig impak vir Jesus, met my godsdienstigheid en al! Sedertdien is ek besig met my tweede bekering om Jesus as my Heer radikaal na te volg. Mag ek dit met jou deel aan die hand van ’n nuwe boek wat pas verskyn het: JY KAN ’N VERSKIL MAAK: “Bekering twee het my oë geopen vir die God van verhoudings. Van toe af het ek verskuif vanaf ’n professionele kerklike na ’n gewone volgeling van Jesus. Na my eerste bekering het ek gedink die enigste manier om die Here te dien is om “voltyds” vir Hom te werk as ’n dominee. Ek het besef dat hierdie idee van voltydse professionele werkers vir die Here (waarvoor net ’n uitgesoekte klein groepie gewoonlik ook kwalifiseer), ’n mensgemaakte skepping is. Dit het oorgeloop in ’n diep vryheid om Hom net lief te hê. Dit wat ek reeds vanaf dag een was, naamlik ’n voltydse volgeling van Jesus, maak sedertdien al hoe meer sin en realiseer genadiglik ook meer en meer. Nou snap ek dat ek voltyds in God se diens is. En dat dit niks te make het met my beroep of my werksure nie. Nou is my Engelse leuse: “I’m a full time follower of Jesus, disguised as someone with a few day jobs!” “Bekering twee is die Here se pad wat my verander vanaf ’n geestelike fixer (wat almal moet regruk) na iemand wat intensioneel aanwesig is in Jesus se Naam. Ek het sedertdien geleer om doelbewus aan diens vir Christus te wees. Net dit. Ek leef nou met die verwagting dat Hy mense sal verander. Daarom dat ek aanhoudend uit Sy pad staan sodat Hy kan doen wat net Hy kan doen, naamlik om mense met sy liefde aan te raak. En Hy doen dit!! Nou is ek slegs ’n gewone reisgenoot saam met ander op Jesus se pad. Meer as ooit is ek nie skaam om te bely dat ek Hom liefhet nie, maar meer as ooit verstaan ek ook dat ander nie lewelose objekte is wat my uitgesortering of “fixing” benodig nie.”