Die evangelie vra jou hande en voete
deur Stephan Joubert ’n Onderwyseres vertel my van ’n briefie wat sy gekry het van ’n skolier wat nie sy huiswerk gedoen het nie. Hy het ’n huilende gesiggie geteken en daarlangs geskryf hulle het niks meer kos in hulle huis oor nie. Sy ma het nie ’n kar nie en hy moet elke dag baie ver stap skooltoe. Toe besef die juffrou dat die oorbekende woorde: “Ek dink aan julle” daardie dag net mooi niks help nie. Ook nie iets soos: “Ek sal vir julle bid” nie. Sy het besef sy is die Here se antwoord in lewende lywe op hierdie kind se krisis. Sy is die oplossing vir daardie huilende gesiggie op die brief. Nee, sy het dit nie iemand anders se probleem gemaak nie, maar dadelik ingespring en gaan kos koop vir daardie honger gesin. Te veel mense dink net aan mekaar sonder om ooit ’n hand op te lig om te help. Hulle verander nooit in die Here se konkrete antwoord op hulle eie gebede nie. Hoor hier, die evangelie moet voor sonsaktyd nog jou hande en voete bereik, anders is jy net met ’n stuk formele godsdiens besig. Jy moet omgee en help in die Here se mooi Naam.