Skuldgevoelens en sy handlanger skaamte
deur Elmarie van der Westhuizen Ons almal ken die knaende gevoel wat op die krop van jou maag kom sit — skuldgevoelens wat jou aankla en net nie laat los nie. Jy het jou kind by die skool vergeet, jy het heerlik saam geskinder, te veel geeët/gedrink, ongeduldig op jou kinders geskree, nie genoeg tyd spandeer aan jou gesin of vriende nie. Skuldgevoelens is nuttig wanneer dit ons by die punt bring om vir ander en vir God om vergifnis te vra. Daarsonder sou ons waarskynlik nie ons gedrag wou verander nie. Destruktiewe skuldgevoelens daarenteen, is skuldgevoelens oor foute waar ander die gevolge moet dra vir my swak besluite of optrede en wat ek nie meer ongedaan kan maak nie. Waar ek die oorsaak is vir my geliefdes se swaarkry. Ek kan myself nie vergewe vir die foute wat ek gemaak het nie en dra dan so onnodige bagasie met my saam. Baie Christene sukkel onder ’n verpletterende gevoel van skaamte en skuld as gevolg van sondes van die verlede. R T Kendall vertel in sy boek, Total Forgiveness, hoe hy homself moes vergewe omdat hy sy kinders afgeskeep het toe hulle klein was. Hy het homself in sy werk verdiep en daar was nie tyd om aan hulle aandag te gee nie. Hy het laterjare sy volwasse kinders om vergifnis gevra vir die leemte en seer wat dit in hul lewens gelaat het. Alhoewel hulle hom vergewe het, het hy lank gesukkel om homself te vergewe. Hy kon nie sy dade ongedaan maak nie. Die Bybel, egter, is baie duidelik: Jesus Christus het klaar al die skuld en blaam vir ons almal se sondes gedra. God hou nie ons sondes teen ons nie. Hy sal dit nooit weer aanroer nie. Om God se vergifnis te ontvang, hoef jy slegs jou sonde te bely en Sy vergifnis deur geloof te aanvaar. Dit is nie volkome vergifnis net om te weet ons is vergewe nie, maar dit is om ook onsself te vergewe — vir baie van ons die moeilikste ding van alles. Paulus was in beheer van die steniging van Stefanus, David het by Batseba geslaap en het haar man laat vermoor, Petrus het Jesus verloën. Hoe nuttig sou hul in God se koninkryk gewees het as hulle heeltyd die swaar bagasie van skuldgevoelens moes saamdra? Hulle het God se vergifnis aanvaar, dit hul eie gemaak en ook hulself vergewe. Wanneer jy ander vergewe, gee jy hulle ’n geskenk wat hulle nie verdien nie. Wanneer jy jouself vergewe: gee jy jouself ’n geskenk wat jy verdien nie. Vergeet van die verlede. “When you forgive yourself you are honoring the blood, honoring Jesus.” — R T Kendall Erkenning aan RT Kendall — “Total Forgiveness”