My oupa het die hoogste kwalifikasie ooit gehad!
deur Stephan Joubert
Verlede week het ek hierdie stukkie op Facebook geplaas. Mag ek dit in verwerkte vorm met jou deel: Toe ek onlangs deur Facebook blaai, kom ek op ’n “suggested post” af, oftewel ’n advertensie, wat vertel hoedat jy deesdae ’n honorêre PhD kan verwerf vir jou bydraes tot die mensdom. Nou ja, ek het al met persone te make gehad wat skielik “be-doktord” geraak het via oorsese universiteite wat kwalifikasies met spoedpos weggee. Onlangs het ek ook ’n Christelike opleidingsplek raakgeloop waar party dosente oor vreemde “nagraadse” kwalifikasies beskik. Toe wonder ek by myself– is kwalifikasies so belangrik dat sommiges hulle gewetens hiervoor sal rek? Het ons groter geloofwaardigheid as ons titels soos doktor, professor, dominee of pastoor dra — veral as sulke titels by twyfelagtige instellings verwerf is? Toe dink ek aan my oupa met sy standerd 4 opleiding. Hy was my rolmodel, my held en my padwyser na die Here toe. Hy het die heel hoogste kwalifikasie gehad wat enige mens ooit hier op aarde kan hê — wysheid, die Here se soort! My oupa het die lewende God met eerbied gedien, soos wat Spreuke 1:7 sê. Hy het geweet hoe om die regte ding op die regte tyd te sê en om ’n hart vir mense in nood te hê. Sy nederige leefstyl het luidkeels vertel dat die Here sy Herder is. Ek wil soos hy wees. Nee, ek wil die Here met oorgawe dien wat mense se lewens steeds met wysheid versier.