top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wysheid is vryheid

deur Stephan Joubert “Ek het nie die universiteit verlaat en tussen gestremde mense gaan leef omdat ek hulle wou help nie. Die eintlike rede hoekom ek dit gedoen het is omdat ek beter leermeesters in my lewe nodig gehad het.” So vertel die bekende skrywer Henry Nouwen. Hy het sy suksesvolle akademiese loopbaan opgeoffer en as priester gestremde mense gaan dien in die L’Arche Daybreak gemeenskap in Ontario in Kanada. Dit het hy gedoen tot en met sy dood in 1996. Wyse woorde, dié van Nouwen. Van wysheid gepraat — God se wysheid word nie outomaties gedeponeer in mense met stringe kwalifikasies of groot poste op hulle kerfstok nie. Soms staan sulke dinge juis in die pad van sy wysheid. Soms vra dit die dapperheid van ’n Nouwen om uit die greep van dwaasheid te ontsnap. God deel graag sy wysheid met met diegene wat Hom nederig daarom vra, soos wat Jakobus 1 ons leer. Wysheid is om ’n lewenslange ontdekkingsreisiger op God se pad te wees. Wyse mense is lewenslange leerders wat hulleself omring met goeie leermeesters. Hulle luister graag na wyse raad. Hulle werk hard. Hulle ken hulle plek en tel gedurig hulle woorde, soos wat Spreuke 10 ons leer. Maar die belangrikste van alles — wyse mense is nederig. Daarom kan hulle soms wegstap van groot posisies in die lewe, of van tydelike dinge soos erkenning en roem. Daarom is hulle vry genoeg om kleiner te groei in God se teenwoordigheid. Waar trek jyself op die pad van wysheid? Wen dwase dinge soos gejaagdheid en kommer steeds in jou lewe? Laat staan dit. Dit gaan jou lewe vernietig. Dit gaan jou siel steel. Jaag God se wysheid na soos wat jy na ’n kosbare skat soek. Sy wysheid sal jou lewe versier soos kosbare juwele. Sy wysheid sal aan jou ’n lewe vol vreugde en betekenis gee. Dit sal jou vrygewig en vry maak. So leer Spreuke 1-3.

bottom of page