Is jy dalk ’n werkholis?
deur Luther Backer Mymerings van ’n werkholis “Dis nog vroeg, voor die son uit is en ek is reeds agter my lessenaar in my kantoor. Ek sit behaaglik terug in my stoel as my oë draal oor die prestasietoekennings en kwalifikasies teen die mure. Ek is immers die jongste senior bestuurder in die firma en die hoë produktiwiteits- en winsgewendheidsvlakke van my afdeling is hoofsaaklik te danke aan my hardwerkendheid. Die gepaardgaande vergoeding het natuurlik nie weggebly nie maar niemand betwyfel dit dat ek ’n perfeksionis is nie. “Ek is immers skoon en netjies van voorkoms, stiptelik, ordelik en altyd pligsgetrou in my werk. Ek het wel ’n besondere wil van my eie en maak altyd seker dat ek in beheer van myself is asook van hulle wat na aan my is, maar wat ek nie kan verdra nie is besluitloosheid. Ek moet erken dat ek maklik my humeur verloor en dit dra by daartoe dat mense hulle afstand van my hou maar dit pas my omdat ek nie belangstel in naby verhoudinge met mense nie. “Hulle sê my denke is rigied en ek kom dikwels koud en intimiderend voor en dat ek buitengewoon hoë vereistes aan myself en aan my personeel stel, maar ek huiwer nie om bykomstige verantwoordelikhede te aanvaar nie. Ek vind dit egter baie moeilik om te ontspan. “Ek besef ek spandeer min tyd met my vrou en kinders weens my lang werksure van gemiddeld 80 tot 100 ure per week, maar ek kan nie langer ure tuis deurbring en nog voortgaan om aan hul lewensbehoeftes soos die gerieflike huis, moderne klere en luukse motors, duur vakansies, selfone en rekenaars te voorsien nie. Ek vind dit nodig om die belangrikste gesinsbesluite self te neem.” (Hierdie profiel van ’n werkholis is grootliks gebaseer op Paul Meier en andere: The Workaholic and His Family, Baker Book House, 1981 aangehaal deur Bill Heybels: Christians in the Marketplace, Victor Books, 1992, p.58). Johan Geyser van die Mosaïek Gemeente in Fairlands, het in ’n preek oor Werkholisme gesê dat jy vrae soos die volgende kan vra wat kan verraai of daar moontlike neigings tot werhholisme by jou bestaan: 1. Is jou te-doenlysie meer as wat jy kan doen elke dag? 2. Is dit vir jou moeilik om ’nee’ te sê vir groot geleenthede wat op jou pad kom? 3. Voel jy skuldig as jy ontspan? (Is jy trots daarop om te kan sê: “Ek is nie ’n ou wat niks kan doen nie; ek moet altyd besig wees?) 4. Sukkel jy om af te skakel as jy gaan slaap? 5. Is jy iemand wat gereeld werk saam huis toe vat? 6. Sê die mense om jou dat jy dit stadiger moet vat? (Moet jy gewoonlik eers siek word om dit stadiger te kan vat?) 7. Kla jou gesin dat jy hulle emosioneel verwaarloos? (Jy beweer dat jy so hard werk om aan die gesin se behoeftes soos ’n mooi huis te kan voorsien, maar jou vrou en kinders wil jou eerder self meer tuis by hulle hê om in hulle aktiwiteite te deel). 8. Vind jy uit dat jy nie meer kontak het in jou verhoudinge nie? (Dis amper of jy ’n vreemdeling vir mense is met wie jy bevriend was). 9. Voel jy of jy ook nie meer ’n diepteverhouding met die Here het nie? (Preek op audioband.) Waar kom die gedrag van ’n werkholis vandaan? Al word in die meeste gevalle die najaag van geld as die vernaamste motiveerder van die werkholis beskou, beweer kundiges volgens Bill Hybels (1992, p. 59), Johan Geyser en Ken Kosta (God en my werk, CUM, p.94, 2007) dat die meeste werholiste ernstige sekuriteitsprobleme ervaar; dat hulle as kinders onder groot druk was om te presteer maar dat hulle min erkenning vir prestasie, aanmoediging en goedkeuring van hul ouers ontvang het. As kind het die werkholis homself gevolglik as ’n volslae mislukking beskou en het skuldig gevoel omdat hy nooit aan sy ouers se vereistes kon voldoen nie en het groot geword met die gedagte dat alles kort van perfek ’n mislukking is. Omdat sy ouers se liefde vir hom altyd voorwaardelik was, afhangende van die kwaliteit van sy prestasie, het hy ’n leefstyl ontwikkel wat hoofsaaklik prestasiegedrewe is. Hy is egter nooit tevrede met wat hy bereik het nie, het ’n swak selfbeeld en pak voortdurend meer aan om homself te bewys. Hy spandeer meeste van sy tyd om rykdom, mag en status te verkry in ’n vergeefse poging om homself te oortuig dat hy iets werd is. In my volgende bydrae bespreek ek DV maniere hoe werholisme genees kan word.