top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Tyd vir die regte feite!

deur Stephan Joubert “Sal die oorlog tussen die Palestyne en Israel ooit end kry?” wonder iemand hardop iewers in die week. Tussendeur word vliegtuie afgeskiet en gevegte woed in die Oekraïne, Iran, Soedan en op ander plekke op aarde. Op die plaaslike front maak stakers orals amok. Eindelose krisisse onderstreep keer op keer die onvermoë van owerhede en regerings om blywende vrede op aarde te bring. FEIT: Aan hierdie kant van die graf sal daar nooit blywende vrede tussen mense wees nie. Nie eens die mees bekwame wêreldleiers kan dit bewerkstellig nie. FEIT: Tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis sal daar krisisse, hartseer, oorloë en natuurrampe wees. Hieroor is Jesus op rekord in Markus 13 en Matteus 24. FEIT: God alleen spesialiseer in ewige vrede. Sy eie Kind het dit persoonlik aarde toe gebring en aan al sy volgelinge kom uitdeel. Onthou jy dat toe Jesus op die punt gestaan het om weer terug te keer na sy hemelse woonplek Hy juis gesê het: “My vrede gee Ek julle” (Johannes 14:27). Jesus Self is die beliggaming en inhoud van hierdie hemelse vrede. FEIT: Jesus se vrede kan nooit deur die loop van ’n geweer afgedwing word nie. Ook nie deur vernuftige politieke onderhandelaars nie. Selfs nie eens deur godsdienstige instellings nie. Nee, Jesus se vrede kom slegs wanneer jy klein, kinderlik en eerlik in Hom glo. Wanneer jy dag vir dag aan sy voete sit en onvoorwaardelik agter Hom aanloop, stroom daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan in jou lewe in. FEIT: Die vrede van Jesus is duur; peperuur. Dit het Hom sy lewe gekos. Tog is sy unieke vrede vandag nog vir ’n klein groepie mense beskore wat bereid is om Hom op sy eie voorwaardes te volg. Waag dit vandag!

bottom of page