Verbruikers se ander naam is dwase
deur Stephan Joubert Ons leef in ’n verbruikers-aangedrewe samelewing, oftewel, ’n “consumerist society.” Menslike verbruikers stel nie daarin belang om by ander iets te leer nie. Hulle is nie leergierig nie, maar verbruik-gierig. Hulle vra nie watter lewenslesse ander vir hulle te leer het nie, maar watter voordele mense vir hulle inhou. Die dag as jy jou nuttigheidswaarde vir sulke menslike verbruikers verloor het, dan stoot hulle jou eenkant toe. Dan soek hulle nuwe slagoffers wat hulle van vooraf kan opgebruik. Geen wonder nie dat Spreuke sulke menslike verbruikers met slegs een woord tipeer: dwase! Dwase is totaal en al onleerbaar. Hulle is selfsugtig. Hulle steur hulle net mooi niks aan goeie raad of eerlike teregwysings nie. Hulle soek nooit na goeie advies nie, net na byvoordele. Hulle soek nie hulp nie, net geleenthede. Hierteenoor loop wyses altyd op die pad van goeie verhoudings. Dit begin vir hulle in God se teenwoordigheid. Sy eer en sy erkenning tel vir hulle alles. Nooit probeer hulle Hom verbruik nie. Ook is hulle is lojaal en eerlik. Hulle raad is opreg. Hulle bid vir hulle vriende en dra graag ook ander se laste in die Here se Naam.