top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Is dit nou Spreuke 26:4 of Spreuke 26:5?

deur Stephan Joubert Een van die flieke uit my jong dae wat ’n groot indruk op my gelaat het is Fiddler on the Roof. Dalk het jy dit ook gesien? In elk geval, die hoofkarakter in die fliek is ’n wyse Joodse man wat gedurig tussen tradisie en die realiteite van sy eie dag moes worstel. Hy bevind homself heeltyd tussen “on the one hand” en “on the other hand.” Twee waarhede gelyktydig tref sy lewe van vroeg tot laat. Aan die een kant weet hy dis ’n goeie ding dat sy een dogter trou met iemand wat hulle self uitgekies het, soos wat Joodse “matchmaking” tradisies bepaal het. Andersyds weet hy dat die eise van sy tyd en die hart van sy kind vra dat sy toegelaat moet word om die man van haar drome self te kies. Twee gelyktydige waarhede dus wat net deur ’n lewe van wysheid aangespreek kan word. Spreuke se roete raak al hoe meer nodig in ons dag, daardie einste een van Spreuke 26:4b-5. Hoor net wat sê vers 4b: “Moenie ’n dwaas in sy eie taal van dwaasheid antwoord nie sodat jy nie netsoos hy word nie.” Maar dan deel vers 5 ’n teenoorstaande wysheid: “Antwoord die dwaas in sy eie taal sodat hy nie begin dink hy is wys nie.” Wanneer volg jy Spreuke 26:4b en wanneer volg jy Spreuke 26:5? Wel: i. Daar's nie ’n resep wat elke keer slaafs werk as antwoord vir die kompleksiteite van die lewe nie. Godsdienstige cliché’s soos: “Ek het Skrif gekry,” of “Die Here het vir my gewys,” klink vroom, maar navorsing wys dat die keuses wat baie mense in die lig van sulke uitsprake maak presies ooreenstem met wat hulle in elk geval van die begin af wou doen. Met ander woorde, God stem maar net elke keer saam met hulle eie begeertes! ii. Wysheid werk met ander uitgangspunte as dié waarmee die meeste gelowiges normaalweg werk. Spreuke sê byvoorbeeld nêrens jy moet bid totdat jy ’n antwoord kry nie. Of lees net jou Bybel gereeld nie. Of gaan nog meer kerk toe nie. Daar’s niks verkeerd met hierdie geestelike dissiplines nie. Alles en behalwe! Nogtans mis die meeste mense wat Spreuke as een van hul gunsteling boeke in die Bybel beskou die punt dat ’n kultus (in vandag se taal - ’n kerk!) en die beoefening van genoemde geestelike dissiplines grootliks ontbreek. Vir Spreuke behels wysheid dat ons elke dag kies om die Here te vrees en om nadenkend en versigtig te leef. Wysheid is om die Here in daardie een en enigste regte lewe te dien. iii. Wysheid is ook volgens Spreuke om nederig tussen ander mense te leef. Dis om jou woorde te tel. Dis om te dink wat die implikasies van jou woorde gaan wees. Wysheid is ook om ’n hart vir armes te hê, en om seksueel rein te leef. Dis om hard en fluks te werk. Wysheid is ’n goed geleefde lewe in God se teenwoordigheid. Binne hierdie raamwerk, soos wat dit binne Spreuke 1-31 uitgespel word, speel ons lewens gedurig af. Binne hierdie roetewysers moet ons in elke situasie opnuut kies of ons Spreuke 26:4b doen, of Spreuke 26:5. O ja, daarna aanvaar ons verantwoordelikheid vir ons keuses!

bottom of page