top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Genade gebeur in jou slaap

deur Stephan Joubert

“Wat jy saai, dit maai jy.” So lui die spreekwoord. Tog oes jy partykeer waar jy nie gesaai het nie. ’n Ander woord hiervoor is genade. Genade is om te ontvang wat jy nie verdien nie. Genade is om te kry waarvoor jy nie gewerk het nie. God spesialiseer hierin. Hy blink uit in genade. Hy gee sy soort lewe verniet weg. Hy deel vergifnis in Christus se Naam uit aan alle genade-bedelaars. Hy dek ’n ewige feestafel vir al Sy mense. Genade gebeur wanneer God ’n leeftyd se saaiery in die landerye van droogmaak nie teen jou hou nie. Genade is wanneer Hy sy soort lewe in die plek hiervan verniet vir altyd aan jou uitdeel. Genade het gelukkig nog nie opgehou aan God se kant nie. Sy genade gebeur oor en oor tussen ons. Genade gebeur ook in ons wanneer Psalm 127 se woorde in ons midde waar word. Daar staan geskryf dat die Here vir sy geliefdes gee wat hulle nodig het terwyl hulle slaap. Hoor asseblief weer, terwyl ons in droomland is en salig onbewus is van wat rondom ons gebeur, deel die Here sy goedheid verniet aan ons uit. Dit is hoekom Jesus in Matteus 6 vir ons leer dat ons nie eens te veel woorde moet gebruik wanneer ons bid nie, want God weet wat ons nodig het. Hy is ons Vader wat vir ons gee wat ons benodig (en selfs meer as dit) ten spyte van ons swak gebede en ons sukkelende woorde. Hou vas aan die God van genade. Hy sal vir jou goed wees op maniere wat jy nie eens kan bedink of verstaan nie.

bottom of page