top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Beïnvloed jy mense positief?

deur Marietjie Joubert Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ’n vreeslike droom oor hom gehad.” — Matteus 27:19 Ons lees in hierdie vers van Pontius Pilatus, die Romeinse Goewerneur in Judea en sy vrou. In latere buite Bybelse bronne hoor ons haar naam is Claudia. Sy is tot ’n heilige verklaar in die Oosterse Ortodokse en die Etiopiese kerk. Dit is die enigste keer dat sy genoem word in die Bybel. Sy was die kleindogter van Keiser Augustus. Ons hoor nooit weer van haar nie. Jesus staan voor die regterstoel van Pilatus. Die volk kies dat Barabbas vrygelaat word en Jesus gekruisig word. Pilatus was dan sy hande voor die volk om sy onskuld aan Jesus se dood te bevestig. Pilatus se vrou het in haar nota aan Pilatus gesê dat hy niks te doen moet hê met die dood van die onskuldige man nie. Of sy haar man beïnvloed het, weet ons nie regtig nie. Sy was wel invloedryk omdat sy die goewerneur se vrou was. Ons as vroue kan ’n groot invloed uitoefen. Ons as kinders van die Here kan mense se opinies verander. Ons kan ’n sagte antwoord aangee en liefde uitdeel sonder om baie te sê. Vroue wat die Here ken se waarde en invloed loop soos ’n goue draad deur die Bybel. Vandag kan ons nog steeds mense se harte verander en hulle wen vir die koninkryk. Deur slegs ’n woord te sê of ’n suggestie te laat hang in die lug, verander jy dalk iemand se lewe om die Here te vind. Ons mag nooi stilbly nie. Ons mag nooit die kans laat verbygaan om getuienis te lewer nie. Natuurlik doen elkeen dit op sy eie manier. Ons is nie almal evangeliste of sendelinge nie. Ons moet net die skoene van bereidwilligheid aanhê om die evangelie uit te dra, al is dit net om ’n bord kos vir iemand te gee. Of jy nou ’n doodgewone vrou is in ’n doodgewone werk, en of jy ’n invloedryke persoon is, jou invloed moet jy gebruik. Bou verhoudings en wees invloedryk want dan kan jy jou stad of dorp, jou werkplek en vriendekring verander. Ons moet die moed hê om te praat, te vertel en te getuig. Wees invloedryk. Gebed Here, ek moet my geleenthede gebruik om mense na U toe te beïnvloed. Maak U vir my die deure oop. Amen

bottom of page