Genade het ’n Lyf... en ’n Naam en Adres
- Jul 7, 2014
- 2 min read
deur Stephan Joubert Maarten Luther het die wêreld andersom laat draai met sy 95 stellings teen Wittenberg se kerkdeur op 31 Oktober 1517. ’n Paar jaar later het Luther die Bybel weer in die hande van gewone mense teruggeplaas. Hierdie dapper stappe het God se genade eventueel na miljoene mense laat vloei. Geen wonder nie dat Luther in 2000 aangewys is as die derde mees invloedryke persoon van die vorige millennium! Twee sake het die onuitblusbare vuur in Maarten Luther in se hart brandende gehou — sy liefde vir die Here en sy liefde vir die Bybel. Na jare se worsteling, en ’n indringende studie van die Bybel, het Luther ontdek dat God se genade meer as genoeg is. Hy het besef genade het ’n unieke naam en adres — Jesus Christus! Jesus se dood en opstanding is onverdunde Goddelike liefde in aksie. Sy eie lyf is die prys wat egte genade God kos. Genade is om die Here op sy allerbeste en allernaaste te ervaar! God se genade is ’n hemelse werkwoord. Genade het Hom alles gekos — ’n houtkruis op Golgota insluitend. Maar genade is in dieselfde asem ’n ruswoord hier aan ons kant van die draad. Anders gesê, God doen genade en mense ontvang dit gratis, onverdiend, verniet! Boonop ontvang die verkeerde mense genade, diegene wat niks het om dit by God mee te koop of deur ’n goeie lewe te verdien nie. Genade is bedoel vir al God se verlore eiendom. Genade is God se nuwe Genesis. Dis sy van-voor-af oorbegin met elkeen wat iewers ’n slegte Eksodus beleef het. Genade — soos wat Philip Yancey dit eietyds beskryf, is om te besef niks wat ek gedoen het, tans nog doen, of nog in die toekoms gaan doen, kan maak dat God meer of minder van my hou nie. Hy het my in elk geval lief! Genade is om Jesus se reddingshand krampagtig vas te klou en te weet: Ek is vir altyd teruggevind! Val opnuut weer vorentoe in God se genade-hande!

Comments