Bly of ry?
deur Stephan Joubert ’n Vriend van my het een keer gesê die verskil tussen ’n vlugteling en ’n emigrant is “timing.” Tydsberekening maak blykbaar saak wanneer jy moet weet of jy moet bly of ry. Gedurende die maand of twee wat ek jaarliks in die buiteland moet deurbring, word ek dikwels gekonfronteer met soortgelyke opmerkings. Dan onthou ek elke slag die vroeë kerk wie se fokus nie gerig was op hulle eie omstandighede, goed of sleg, nie. Hulle was egter baie seker van hulle identiteit in Christus. Hulle het verstaan dat hulle geroep was om die Here en ander met oorgawe lief te hê. Toe groot epidemies soos waterpokkies en masels groot dele van die wêreldbevolking in die tweede en derde eeu uitgewis het, het gelowiges aangemeld vir diens om sterwendes en siekes ten koste van hulle eie veiligheid of gesondheid te versorg. Hierdie liefdesdiens was een van die grootste redes vir die vroegste kerk se astronomiese groei. As ek hieraan dink, dan besef ek die vraag is nie waar ek bly nie, maar hoe ek andere dien daar waar ek bly. Want of ek hier is, of daar, ek is geroep om die Here met my hele hart lief te hê en nie vir myself te leef nie.