Geloof gebeur, selfs al is dit onbepland!
deur Stephan Joubert Kan ek vandag twee verhale deel uit ’n nuwe boek oor die navolging van Jesus getiteld: Jy kan ’n verskil maak, wat eersdaags verskyn: Die eerste sendeling in Korea waarvan ons weet was Robert J. Thomas. Hy het nie ’n reuse sendingprogram gedryf nie. Trouens, hy was dood nog voordat hy eintlik hiermee begin het. In 1866 was hy aanboord van ’n Amerikaanse skip genaamd General Sherman, wat met die Taedong River in huidige Noord-Korea gevaar het waar hy wou gaan werk vir die Here. Die skip het op ’n sandbank beland en hulle is aangeval deur Koreaanse soldate. Net voordat Thomas doodgemaak is, het hy ’n Bybel aan sy aanvallers uitgehou en uitgeroep: “Jesus, Jesus!” Dit is al. Sowat 25 jaar later het iemand ’n gastehuis in daardie omgewing besoek met vreemde muurpapier teen die mure. Die eienaar het verduidelik dat hy van die Koreaanse skrif gehou het in ’n dik boek wat hy iewers gekry het. Toe gebruik hy dit as muurpapier, soos wat dit die gebruik in daardie tyd was. Dit was toe al die tyd bladsye uit Robert Thomas se Bybel wat hy vir sy moordenaars gegee het en wat as geloofsteks vir vele gaste gedien het. Wie weet hoeveel mense het God se genade teen daardie einste muur raakgelees en ontdek! Sommige navorsers reken dat 40% van Suid-Korea se inwoners vandag Christene is en dat hierdie Bybel van Thomas die eerste reuse tree was in die regte rigting. Anders as Robert Thomas, was die prediker, D.L. Moody, wyd bekend. Een aand voor ’n optrede in Indianapolis het hy vir die bekende sanger, Ira Sankey, gevra om op ’n straathoek te begin sing. Spoedig het ’n groot skare om hom saamgedrom. Moody het toe met hulle oor die Here begin praat. Daar was later so baie mense dat hy hulle na die ouditorium toe genooi het waar hy later die aand sou optree. Kort voor die aanvang van die amptelike program het hy vir die skare wat spontaan daar saamgekom het gesê: “Now we must close as the brethren of the convention wish to come and discuss the question: ‘How to reach the masses!’” Die verhale van Robert Thomas en D. L. Moody het een gemene deler. Beide vertel iets van die verrassende karakter van dissipelskap. Dit is hierdie spontane lewe wat ekself vir veels te lank misgeloop het. Helaas het ek nie Markus 4 geglo dat die koninkryk se saad vanself en op onverwagse maniere opkom en groei nie. Jesus se woorde aan Petrus dat hy maar net agter Hom moet aankom, dan sal Hy hom ’n visser van mense maak, het by my verbygegaan. Ek het gedink ek moet self daardie visse bydam en inbring. Nou weet ek dat ek net elke dag moet aanmeld by Hom wat die Pad, die Waarheid en die Lewe is. Hy sal my lei na daar waar sy lewende waters vandag moet vloei.