Liewers aan die armdruk as ’n onwettige verklaarder!
deur Stephan Joubert Job is nie ons speelmaat nie. Hy sê sulke rowwe dinge vir God dat selfs sy beste vriende hom skerp hieroor aanvat (4:2-3; 8:2; 15:2-6). Sy gevegte met God het begin nadat hy sy kinders en sy besittings in groot rampe verloor het. Job meen God het hom afgetakel en sy gesin uitgewis (16:7). Daarom voel hy God is onregverdig en vergiftig hom met sy hemelse pyle (6:4). Job huil omdat daar nie ’n skeidsregter tussen hom en God is wat onpartydig tussen hulle kan oordeel nie (9:33-34). Trouens, God het in Job se vyand verander en hom in sy woede verskeur (16:10). Job se vriende laat nie op hulle wag om God te verdedig nie. Elifas weet dadelik Job se probleem is daardie geheime sondes in sy hangkas; daarom kry God hom nou terug. Hy weet geen regverdige gaan ooit onder nie (4:7-10). Bildad is op sy beurt oortuig Job se kinders was groot sondaars; daarom is hulle met die dood gestraf (8:4). Sofar meen weer dis Job se godslasterlike praatjies wat die eintlike probleem is (11:3). Hierdie selfaangestelde advokate vir die hemel stel dit aan Job dat hy net sy dwaashede moet bely, dan sal alles weer reg wees (11:13-20). God antwoord uiteindelik in hoofstuk 38-41. Nee, Hy verdedig Homself nie. Al wat God doen, is om Job op ’n toer deur die skepping te vat waar Hy sy hart en almag vir hom wys. Job sien nou met watter groot krag God sy skepping gemaak het. Vanaf die magtige oseane en hemelliggame (38:8-31) tot by die kraaie (39:3) sien Job God se gedetailleerde, liefdevolle sorg vir sy skepping. Uiteindelik kry hy die boodskap: God is die Almagtige, maar Hy is ook ’n liefdevolle God. In sak en as erken Job dan dat hy nie genoeg insig in God se planne gehad het nie (42:1-6). Tog bevind God hom nie skuldig na sy uitbarstings nie; alles en behalwe. Job was padlangs eerlik met God. Tog kan God dit vat. Hy laat Homself vind deur elkeen wat opreg soek na Hom, al moet Hy hulle agter moedverloor se vlakte loop uithaal. Maar God meen wel Job se drie vriende het nie die waarheid oor Hom gepraat nie (42:7). God het nie sulke aardse advokate nodig om Hom te verdedig nie; nog minder mense wat rampe en slegte gebeure as deel van sy straf probeer uitwys.
Ek leer by Job dat dit beter is om eerlik met God te praat in my krisisse as om stil-kwaad te wees, of agteraf oor Hom te skinder.
Ek leer dat ek al my twyfel na die Here toe kan bring.
Ek leer dat ek nie geroep is om ander se swaarkry vir hulle te probeer verklaar nie. Ek is ook nie deel van een of ander godsdienstige regspan wat mense moet skuldig bevind as hulle worstel om te glo nie.
Ek leer ek is slegs geroep om goeie getuienis van God se liefde af te lê. Ek moet vertel van sy almag én versorging. Ek moet vertel van sy groot liefde wat gemaak het dat Hy vir Christus in ons plek as offer gegee het.
Ek leer dat ek moet getuig dat elkeen wat opreg na God soek deur Hom gevind sal word. Die detail van hoe dit sal gebeur kan ek rustig in die Here se hande laat.