Sê wat jy bedoel. Dis wat die Here vra.
deur Stephan Joubert “Jy kan nie verwag dat iemand jou punt moet snap as hy of sy betaal word om dit nie te vang nie,” sê iemand onlangs. Ware woorde! Hoe jammer dat sommiges dink hulle het iewers ’n lisensie gekry om onkunde te pleit as hulle droogmaak of verkeerde dinge sê. Daardie holrug geryde verskoning: “Ek het nie geweet nie,” se vervaldatum het laasjaar hierdie tyd reeds aangebreek. Ook so met daardie nuwe verskoning wat deesdae tot vervelens toe gehoor word: “Ek het dit nie so bedoel nie.” Te veel mense matig hulle die reg aan om enigiets oor ander mense te sê of te skryf, maar wanneer hulle aangevat word, dan het hulle dit skielik nie so bedoel nie. Of hulle is verkeerd verstaan. Ons moet opnuut weer op Spreuke se roete inval deur eerlik met ons eie motiewe te raak sodat ons nie met goedkoop verskonings wegkom nie. Ek praat van daardie: “Wat jy in my sien is wie ek is,” eerlikheid. ’n Deursigtige en opregte lewe maak God se hart bly. Wyses wat die Here in die regte lewe dien sê wat hulle bedoel en vat verantwoordelikheid vir hulle woorde. Hulle praat God se soort taal. Hulle woorde reflekteer hulle Godgevormde karakter.