Waarom word Jesus as Navolgbare Leier beskou?
deur Luther Backer Hiermee sluit ek die gedeeltes af oor kenmerke van ’n koninkryksbesigheid en leierskapslesse wat ons van Jesus kan leer. Om God met ons werk en ons besigheid te verheerlik, stel Hy vir ons ’n voorbeeld as leier om na te volg. Nou kan ons egter vra, wat maak Hom ons leiermodel? 1. Hy was ’n leier met ’n duidelike visie wat berus het op ’n karakter van rotsvaste waardes. ’n Leier kan slegs ’n doeltreffende leier wees as hy ’n duidelike rigting inslaan om ’n spesifieke doel te bereik en dit aan sy volgelinge kommunikeer. Jesus het sy visie vir Sy dissipels as volg aan hulle opgedra: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19-20). Hy het hierdie visie bereik deur die nastrewing van twee belangrike waardes nl. eerstens om jou God lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en krag en tweedens om jou naaste lief te hê soos jouself (Markus 12:30-31). (Blanchard en Hodges: LEAD LIKE JESUS, p.91) 2. Hy het ten volle afhanklik van God geleef. In Sy verweer teen beskuldigings van die Jode omdat Hy ’n sieke by die bad van Betesda op die Sabbat gesond gemaak het en God sy eie Vader genoem het, het Hy gesê: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan” (Joh 5:19-20). Jesus het verder getuig: “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Joh 5:30). In Sy bergrede het Hy Sy dissipels verseker dat diegene geseënd is wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Mat 5:3). 3. Hy het mense uitgesoek wat Sy werk op aarde kon voortsit na Sy hemelvaart. Jesus het geweet dat Hy net ’n kort rukkie op aarde sal wees en daarom het Hy 12 manne geroep om Hom te volg aan wie Hy die verkondiging van die evangelie kon toevertrou. Al was die meeste van Sy dissipels nie geleerd nie en van uiteenlopende geaardheid kon Hy in hulle harte sien wie Hy kon vertrou met die uitdra van die evangelie. 4. Hy het sy volgelinge bemagtig met die Woord en hulle vir hul roeping as dissipels toegerus. Met baie geduld en ywer het Hy in ’n periode van 3 jaar sy verlossingsboodskap gebring nie net aan sy dissepels nie, maar aan elkeen wat wil luister — van enkelinge tot groot groepe samekomste; Hy het die Skrifte uitgelê in sinagoges, privaat huise en waar mense ook al bymekaargekom het. Hy het van gelykenisse wat afspeel teen die agtergrond van die alledaagse lewe wat bekend was aan die meeste mense in die destydse samelewing, gebruik gemaak om sy leringe en preke mee makliker verstaanbaar te maak. Jesus het selfs vir 72 dissipels ’n ander benadering tot evangelisering geleer naamlik om mense mee te bereik wat daarop neergekom het dat hulle eers iemand se vriend moes word voordat hulle hom moes probeer bekeer (Lukas 10:5-9). 5. Hy het Sy dissipels geleer hoe om te bid en wanneer om te bid. Nie alleen het Hy Sy dissipels leer bid nie (Mat 6:5-14), maar ook het Hy gereeld die teenwoordigheid van Sy Vader in afsondering in gebed opgesoek (Mat 14:23). Die aand voor Sy gevangeneming in Getsemane en Sy kruisiging het Hy sy Vader in groot benoudheid in gebed versoek om die lydingsbeker by Hom te laat verbygaan maar om nogtans te doen wat God wil (Markus 14:36). Terwyl Hy aan die kruis hang, het Hy God die Vader gesmeek om die soldate wat Hom gekruisig het te vergewe want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lukas 23:34). 6. Hy het van wonderwerke gebruik gemaak om Sy almag en heerlikheid te openbaar. Baie gelowiges se geloof is versterk deur dit wat hulle deur ’n wonderwerk van Jesus beleef het. Deur wonderwerke het Hy sy medelye met armes, hongeriges, siekes, gebreklikes, weduwees en wese asook mense wat deur duiwels besete was, getoon. God se wonderwerke kom steeds in talle werksituasies en besighede voor waar Hy aanbid en verheerlik word. 7. Hy het Hom aan gesag onderwerp en belasting betaal. Jesus het dit nodig gevind om die tempelbelasting te betaal met ’n muntstuk wat Simon Petrus in ’n vis se bek gekry het (Mat 17:24-27). Verder het Hy ’n strikvraag van die Fariseërs oor of dit reg is om aan die keiser belasting te betaal of nie, beantwoord deur verwysend na die keiser se kop en naam op ’n muntstuk, vir hulle te sê: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort” (Markus 12:13-17). Soos in 1 Petrus 2:13-17 geskryf staan is dit die wil van die Here dat Sy volgelinge hulle moet onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf maar dié wat goed doen, moet prys. 8. Hy is ’n leier deur diens aan ander te lewer en nie deur Homself te bevoordeel nie. Voor die viering van die paasfees was Jesus en Sy dissipels aan tafel in die bovertrek. “Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om Sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het” (Joh 13:4-5). Hierdie gebeurtenis getuig van Jesus se nederigheid en Sy gedienstigheid waarmee Hy ander behandel het. Jesus se nederigheid en Sy ingesteldheid om met alles wat hy gedoen het vir ander ’n dienskneg te wees sowel as Sy onvoorwaardelike liefde teenoor Sy Vader en teenoor alle mense is myns insiens die mees uitstaande kenmerk wat Hom ’n navolgbare leier maak.