top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Onderweg na eenvoud en ’n tweede naïwiteit

deur Stephan Joubert Ons kort ’n tweede naïwiteit. Ons ontnugteringe met die lewe se pynlike sekerhede én onsekerhede moet geboorte gee aan ’n tweede naïwiteit wat, volgens Paul Ricoeur (The Symbolism of Evil, 1967), geskoei is op ’n wyse manier van leef. Dit gebeur eers as ons deur die rivier van kompleksiteit, pyn en ontnugtering geswem het en aan die anderkant vrede maak met onsekerheid, maar ook met God. Dan kan ons weer kinderlik opgewonde raak oor ’n vars en deurdagte geloof in Hom. Dalk moet ons ook saam met Richard Rohr (Adam’s Return: The Five Promises of Male Initiation, 2004) deur ’n inlywingsproses beweeg om te sterf aan onsself om weer te kan leef voor God. Rohr identifiseer vyf lewenswyshede wat ons moet bemeester om vry te raak van ons lewenslange verslawing aan onsself: 1. “Life is hard.” As ons nie geleer het om ons pyn en verlies in die oog te kyk nie, gaan ons vasval in bitterheid, plesier en blaamverskuiwing. Wanneer ons egter in ons swaarkry ervaar Jesus se las is steeds lig, dan skakel ’n hemelse lig in ons lewe aan. 2. “You are not important.” Daar is ’n vervaldatum op status en sukses. Ons waarde in die oë van die samelewing is minimaal op die langtermyn. Tog weet diegene wat op reis is agter Jesus aan dat hulle name reeds in die hemel opgeskryf is. 3. “Your life is not about yourself.” Iewers word ons almal uit die hoofrol van die lewe geskryf. Daarom onthou ons dat dit nie meer ons is wat leef nie, maar Christus binne in ons. Hy alleen is ons hoop! Daarom kan ons buite onsself begin leef. 4. “You are not in control.” Selfhelp-ghoeroes moedig mense aan om beheer oor hulle lewens te neem. Tog is die lewe onvoorspelbaar. Dis buite beheer. Jesusnavolgers ken egter ’n Hemelse Vader wat vir die blomme en die veldgras sorg en wat vandag se manna by vandag aflewer. 5. “You are going to die.” Die dood is die laaste stilhouplek aan hierdie kant van die graf. Maar die hoop van Jesus se mense is dat die dood se bluf geroep is. Christus hou die sleutels van dood en doderyk styf in sy hand. Daarom het ons hoop op ’n nuwe stuk eenvoud in ons lewe.

bottom of page