top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Lag is verniet ... en boonop ook deel van God se plan vir ons!

deur Stephan Joubert ’n Goeie vriend vertel my een keer van sy oom wat jare gelede op Sondae vir mense op plase in die platteland gaan preek het. Een Sondagmiddag preek hy toe vir ’n groepie mense wat onder ’n boom bymekaar gekom het. Toe val ’n slang onverwags uit die boom. Na die groot geskrik sê die oom droogweg: “Vriende, ek het al baie mense aan die slaap gepreek, maar nog nooit die Satan self nie.” Nou ja, ons moet onsself nie altyd so ernstig opvat nie. Ons moet meer ligvoets deur die lewe loop. Maarten Luther het juis gesê: “God moet definitief ’n goeie humorsin hê want Hy het mense soos ons gemaak!” Te veel kerkmense se gesigspiere versteen as hulle die kerk instap. Geen wonder nie, want baie van ons het grootgeword met bordjie naby kerke wat sê: “STILTE. KERK.” Dit gaan definitief in die kerk oor God. Maar dit beteken nie dat lag en vrolikwees verbode is in ons verhouding met die Here nie. Inteendeel. Vreugde is juis ’n gawe van God. Wag, vrolik wees is nie net ’n geskenk van God aan al sy kinders nie; dit is deel van sy plan vir ons almal. So vertel Paulus in 1 Tessalonisense 5:16-18 as hy vreugde en dankbaarheid hier direk met God se wil in verband bring. Stop! Jy het dit nie behoorlik raakgelees nie. Hoor asseblief weer: vreugde is deel van God se wil. Anders gesê, ons is buite sy wil as ons nie oorloop van hemelse vreugde nie. Vreugde gebeur spontaan as ons agter Jesus aanloop. Dit gebeur tot oorlopens toe as ons sy Woord eet en oordink. Dan word die Woord skielik soeter as heuning op ons tong. Vreugde wen as ons ervaar hoe die Goeie Herder agter verlore eiendom aanstap en hulle terugdra na sy Vader se ewige huis toe. Of as armes kos kry, siekes genees word en hoop aan hooploses uitgedeel word. Vreugde is ons geskenk en ons opdrag as kinders van die lewende God. Vreugde is nie ’n opsie nie; dit is ononderhandelbaar. Saam met Jesus, wat met vreugde gesalf is (Hebreërs 1), loop ons oor van vreugde. Ons lek dit gedurig uit in die rigting van ander rondom ons. Of dalk nie?

bottom of page