Sonde en die goeie ou dae
deur Stephan Joubert “Doer in die goeie ou dae was die kerk nog ernstig oor sonde,” sê ’n oom vir my. Ek moet sê dis nie heeltemal my idee van die goeie ou dae nie. Nogtans is sonde ’n werklikheid. Sonde is ongeloof, nie-geloof en afgodery. Dit mond uit in simptome soos moord, misdaad, korupsie, rassisme... Maar sonde is baie meer as al die afsonderlike simptome daarvan saam. Sonde is ’n mag, ’n doodsgreep waaruit jy nooit self kan ontsnap nie. Lewenslank is dit jou baas en slawedrywer. Daar is geen medisyne vir sonde nie. Niks of niemand kan dit stop of keer nie. Wel, niemand nie behalwe Christus. Jesus is sonde se meerdere. Toe Hy op aarde was, het die baas van sonde, naamlik Satan, sy bes gesoen om Hom te versoek. Die Bose het elke rondte verloor. Nie eens aan die kruis, toe Jesus stoksielalleen met ons sondeskuld was, kon die Bose Hom sover kry om God te verloën nie. Jesus is die enigste medisyne en geneesmiddel vir sonde. Net Hy kan sonde klop. Net Jesus kan elkeen wat met hulle sondes na Hom toe vlug help. Sy offer aan die kruis is deur God aanvaar. Sonde gaan ons nie uit Jesus se hand ruk nie. Elke keer is die Goeie Herder naby as ons val. Deur opregte berou aan ons kant val ons altyd in sy genadige arms in.