Hy’s sou nét vir jou gesterf het
deur Milanie Vosloo As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry. — Johannes 8:36 Dis maklik om die kruisiging van ons Here as ’n universele boodskap te beleef. En ja, natuurlik het Hy gekom omdat Hy elke mens op aarde wil red. Maar die waarheid is ook dat, as jy die enigste mens op aarde was, Hy steeds sou kom: vir jou en jou alleen sou Hy sy hemelse status vir ’n aardse een verruil en sou Hy sterf. Besef jy hoe ontsettend lief God jou het? En hoe graag Hy jou vir altyd by Hom wil hê? So graag dat Hy sy Seun gestuur het om jou te red. Ons moet altyd onthou dat Hy aan die kruis gehang het sodat die wêreld verlos kon word. Ja sodat ek en jy gered kon word. Maak weer die verlossingsboodskap jou eie en onthou dat Hy ook vir jóú gesterf het, maar dat Hy ook vir jou lééf sodat Hy elke dag vir jou as sondaar by die Vader kan intree. Mag jy God se oneindige liefde vir jóú in alle fasette van jou lewe ervaar. Ja, mag jy met groot dankbaarheid onthou dat die Seun steeds sou gesterf het: Al was dit net vir jou! Here, dankie dat U my tot die dood toe liefhet sodat ek kan lewe.