Geen “askies-dat-ek-vir-Jesus-leef” houding nie
deur Stephan Joubert Ek het die volgende verhaal ook vroeër gedeel in JUIG, die Christen-tydskrif waar ek ’n maandelikse rubriek behartig: In een episode van ’n ouer Amerikaanse sepie, “The king of Queens,” besoek Doug en sy vrou sy ouers. Hulle vier dan sy hond Rocky se 28ste verjaarsdag. As Doug wonder hoe Rocky dit reggekry het om so oud te word, erken Doug se ouers dat hy al ’n paar keer vervang is met ’n hond wat presies soos die eerste Rocky lyk. Inderwaarheid trek hule al by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.” Hierop vra sy vrou verbaas: “What do you do with the truth, then?” “We sweep it under the rug, where it belongs!” antwoord sy. Toe besluit hulle almal daar is net een Rocky en hy is 28 jaar oud. In ons dag word party waarhede ook onseremonieel onder die mat ingevee. Party mense hou nie van “ongemaklike waarhede” of “inconvenent truths” nie. Die evangelie moet slegs sag op hulle oor val. Niemand moet aanstoot neem nie. Daarom is daar vele godsdienstige matte waaronder die waarheid weggesteek word. Irrelevansie wen wanneer die Bybel sagter word as wat die Here dit bedoel het om te wees. Nog erger, in sulke omgewings gaan mense ongestoord verlore! Voordat jy my verkeerd verstaan, ek bepleit nie ’n ongeskikte, liefdelose uitleef van die evangelie nie. Die Bybel roep ons op om bedagsaam teenoor ander te wees. Ons dra immers Christus se nuwe klere van die liefde (Kol. 2:14). Hoor net hoe skryf Paulus hieroor in Kolossense 2:12: “Julle moet die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.” Ons mag nie taktloos met ons “reguit” woorde bo-oor ander mense stoomroller nie. Aan die ander kant mag ons nie “people pleasers” wees met ’n “askies-dat-ek-vir-Jesus-leef” houding nie. Om “askieserig” te leef vir die Here, asof enigiets anders belangriker as Hy is, is om nie jou nuwe identiteit in Christus te begryp nie. Nog jou lojaliteit aan die land se grondwet, nog jou familie, vriende of beroep oorroep Jesus. As jy Hom die Here noem, is Hy jou hele lewe. Leef dan jou belydenis met oortuiging uit!